Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se Jesse, Burger loop mank
Die Bulle se Burger Odendaal word deur die Stormers-vleuel Sergeal Petersen vasgevat in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland.Foto: Gallo Images

Die Bulle gaan die Waratahs Saterdag op Loftus moontlik met ’n nuwe senterpaar moet aandurf nadat Burger Odendaal én Jesse Kriel in die naweek se Superrugby-wedstryd op Nuweland teen die Stormers beseer is.

“Jesse sal vir ’n skandering van sy enkel gaan en Burger het ’n baie slegte hou teen sy oog gekry. Ons is regtig bekommerd daaroor,” het Pote Human, die Bulle se afrigter, gesê.

Die beserings was sout in die Bulle se wonde ná hul nederlaag van 23-24. Hulle het die Stormers in die tweede helfte by tye onder groot druk gehad, maar was nie kalm genoeg om die geleenthede te kon afrond nie.

Volgens Human was die Stormers se druk vroeg in die wedstryd ’n groot faktor.

Die Stormers het ons in die eerste 20 minute onder yslike druk geplaas en was net beter as ons. Ons het ’n bietjie laat wakker geskrik en dit was moeilik om konstant te moet inhaal (op die telbord).
Pote Human

“Die Stormers het ons in die eerste 20 minute onder yslike druk geplaas en was net beter as ons. Ons het ’n bietjie laat wakker geskrik en dit was moeilik om konstant te moet inhaal (op die telbord),” het Human gesê.

Die Bulle was ná ’n bietjie meer as ’n halfuur verstreke nog met 3-14 agter, maar het goed terugbaklei en was vroeg in die tweede helfte met 16-14 voor ná Ivan van Zyl se drie.

As jy egter die bal in Dillyn Leyds se keel afskop, moet jy die ergste verwag. Die Stormers, wat toe reeds deur Josh Stander se strafdoel met 17-16 voor was, het beheer oor die wedstryd geneem ná hul linkervleuel se teenaanval, wat vir Herschel Jantjies ’n drie opgelewer het.

Die Stormers was daarna met 24-16 voor en moes hard op die verdediging werk om uiteindelik die wedstryd te beveilig. By tye was die Bulle ook hul eie grootste vyand met swak uitvoering op die aanval.

“Ons het genoeg kanse gehad. Ek dink nie ons het goed gespeel nie. Ons was heeltyd in die wedstryd, maar het ongelukkig in die tweede helfte ’n sagte drie afgestaan. Ons moet dit op die ken vat. Ek is bly oor die bonuspunt,” het Human gesê.

Die Bulle-losskakel Handré Pollard

Handré Pollard, die Bulle se kaptein, meen die Stormers verdien krediet vir die sege.

“Dis rugby 101. Ons kon hulle nie by die voordeellyn stuit nie. Die Stormers het daardie stryd gewen en dis die eerste een wat jy moet wen. Ons het geweet dit kom en was gereed daarvoor, maar kon ongelukkig nie die stryd by die voordeellyn wen nie,” het Pollard gesê.

“Soos elke wedstryd tussen die Bulle en die Stormers, was dit baie fisiek. Die intensiteit was hoog.

“Ons het ’n paar geleenthede nie benut nie en hulle het daardie een in die tweede helfte van ons skop wat nie uit was nie, in punte omgeskep. Dit was dalk op die dag die verskil.”

Puntemakers:

Stormers: Drieë: Sergeal Petersen, Seabelo Senatla, Herschel Jantjies. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis (2), Josh Stander. Strafdoel: Josh Stander.

Bulle 23 (9): Drieë: Ivan van Zyl, Manie Libbok. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Pollard (3).

Meer oor:  Pote Human  |  Burger Odendaal  |  Handre Pollard  |  Pretoria  |  Rugby  |  Bulle  |  Superrugby  |  Beserings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.