Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Keagan droom dat talent oral gesien sal word

“Klein dorpies het massiewe talent, maar hulle word nie altyd raakgesien nie,” sê Keagan Johannes (21) van Mamre, wat vanjaar vir die Blou Bulle as skrumskakel begin uitdraf het.

Keagan Johannes in ’n wedstryd teen die Oostelike Provinsie op Loftus Versfeld op 28 Februarie. Foto: Christiaan Kotze/Gallo Images

Johannes se familie woon steeds in Mamre en dié oudste seun in die gesin met ’n jonger suster en broer van onderskeidelik 13 en 10 jaar oud het, dink dis tyd dat klein dorpies se talent raakgesien word.

Sy rugbyloopbaan het momentum begin kry toe hy in 2016 vir Boland aan die Akademie-week deelgeneem het.

Daarna het hy die geleentheid gekry om in gr. 11 na die Hoërskool Garsfontein in Pretoria te gaan. Dit is waar die Blou Bulle hom raakgesien en hy geteken het toe hy klaar is met skool.

Johannes se debuut vir die Blou Bulle was teen die Pumas op 10 Januarie in vanjaar se Curriebeker-reeks.

“Toe ek hoor die Bulle wil my hê, was ek ’n bietjie stomgeslaan. Dit was baie opwindend en ’n groot prestasie vir my om te behaal.”

Johannes sê hy kry sy liefde vir rugby by sy pa, wat ook baie klubrugby gespeel het.

“Ek was as jong kind klein gebou, maar nadat ek 13 jaar oud geword het, het ek ’n bietjie uitgeskiet,” sê Johannes.

Johannes sê hy weet nie of hy raakgesien sou word as hy nie by die Hoërskool Swartland in Malmesbury skoolgegaan het nie.

“Daar is baie min geleenthede op klein dorpies,” sê Johannes.

V.l.n.r.: Johan Goosen, Keagan Johannes (toe nog 12) en Ryno Benjamin.

’n Mens word gewoonlik eers raakgesien as jy skoolgaan by skole met ’n reputasie van sukses.

“Dit is hartseer. Daar is dalk mense in Mamre met meer talent as ek, maar hulle het net nie die geleenthede gekry wat ek gekry het om uit Mamre te kom en raakgesien te word nie.”

Johannes sê dit was fantasties toe hy die afgelope naweek saam met Johan Goosen teen die Suid-Afrika A-span gespeel het.

“Ek onthou ek het hom ontmoet toe ek 12 jaar oud was,” sê hy. “Hy is een van die mense na wie ek opkyk en nou speel ek saam met hom!”

Johan Goosen en Keagan Johannes speel nou albei vir die Blou Bulle.
Daar is dalk mense in Mamre met meer talent as ek, maar hulle het net nie die geleenthede gekry wat ek gekry het om uit Mamre te kom en raakgesien te word nie.

Johannes se ouers, Luzenn (46) en Franco (45), sê hulle is “verskriklik trots” op hul seun.

“Ons herinner hom altyd om nederig te bly en hard te werk,” sê Franco.

Luzenn sê sy bid elke dag vir haar seun en hoop hy hou sy oë gerig op God.

Sy boetie en sussie, Declan (10) en Kita (13) is net so trots op hul broer.

Declan speel ook rugby en sê Keagan is sy “rolmodel”.

Johannes moedig mense aan wat hul drome bereik het en van klein dorpies af kom om te praat oor hul dorpe.

“Deur mense bewus te maak van waar jy vandaan kom, help hulle om te weet waar hulle ook talent kan opspoor,” sê hy.

Vir die wat nog nie raakgesien is nie, moedig hy aan om nooit ophou te droom nie.

“Droom so groot dat jou drome jou bang maak,” sê Johannes.

“Bly dan gefokus, werk hard en glo in die Here. Jy gaan nie raakgesien word as jy opgee nie.”

V.l.n.r.: Declan Johannes (10), Keagan Johannes (21) en Kita Johannes (13).
Meer oor:  Wes-Kaap  |  Rugby  |  Drome  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.