Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se lakwerk kry aandag

Die Blues mag dalk nogmaals Nieu-Seeland se swakste span in Superrugby wees, maar dié franchise het steeds van die gevaarlikste spelbrekers in die kompetisie.

Die Bulle het verlede Vrydag duur foute op die verdediging begaan toe hulle in Canberra met die Brumbies kragte gemeet het.

Die groot gevaar: Die Blues se All Black-vleuel Rieko Ioane op volle vaart. Foto: Getty Images

Pote Human, hoofafrigter van die besoekers, het agterna gesê sy span weet hoe om te verdedig en dit is eerder individuele foute wat onder meer op die Brumbies-senter Tevita Kuridrani se driekuns aan drieë uitgeloop het.

“Ons moet dit regkry en elke ou weet wat van hom verwag word,” het Human gesê.

Vrydagoggend (SA tyd) in Auckland sal die Bulle weer hul keer teen die Blues moet ken.

Die All Black-vleuel Rieko Ioane is ’n driedrukmasjien en tel oudergewoonte onder die voorste puntemakers in die reeks.

Cornal Hendricks sal na verwagting die gewigtige taak hê om Ioane op te pas.

Die 31-jarige Hendricks, wat vanjaar sy loopbaan laat herleef, is straks voor sy grootste toets sedert sy terugkeer.

Hy kan terselfdertyd met ’n blink vertoning op Edenpark die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, se belangstelling aanwakker.

Op die ander punt het Rosko Specman ’n Dawid teen Goliat-stryd op hande.

Die jong Caleb Clarke, spruit van die voormalige All Black-senter Eroni Clarke, word as een van die opkomende sterre in Nieu-Seelandse rugby bestempel.

Clarke (108 kg) is fisiek en blitsig en sal ’n gewigsvoordeel van sowat 25 kg oor Specman hê.

Cornal Hendricks lê voet in teen die Brumbies in die Bulle-wedstryd verlede week. Foto: Getty Images

Besluit die Blues-breier, Leon MacDonald, om weer vir Melani Nanai in die laaste vesting te kies, sal die tuisspan ook ’n lengte-voordeel hê.

Nanai is ’n lenige 1,95 m, terwyl die Bulle-heelagter Warrick Gelant (1,78 m) aansienlik korter is.

Dit is egter in die middelveld waar Pine Pienaar, die Bulle se verdedigingsafrigter, die week baie tyd saam met Burger Odendaal en Johnny Kotze sal deurbring.

Odendaal en Kotze is albei spelers wat met hope durf speel, maar hulle is nog nie ’n beproefde kombinasie op die vlak nie.

Dit spel gevaar teen die strydros van die Blues, Ma’a Nonu.

Toe Nonu in 2003 sy buiging in die kompetisie vir die Hurricanes gemaak het, was Odendaal en Kotze albei seuns van tien jaar oud.

Human wys Woensdagoggend sy span aan.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Blues  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.