Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se makro-agttal, Pollie breek Leeus

’n Ligte, beweeglike pak voorspelers is wonderlik wanneer jy die bal het en die speltempo wil versnel. Wanneer jy nié die bal het nie en voorspelers so groot soos stootskrapers storm sonder ophou op jou af… Wel dan gebeur met jou wat Saterdag op Ellispark met die Leeus gebeur het.

Stephan Lewies word deur die Bulle se Trevor Nyakane en Hanro Liebenberg platgetrek. Foto: Gallo Images

Die Bulle se makro-pak het die Leeus in ’n knyptang vergruis. Hulle was die handearbeiders wat die grondslag van hul Superrugby-oorwinning met 30-12 gelê. Handré Pollard, die Bulle se kaptein, generaal en losskakel, was die argitek en het die afronding met sy skopstewel gedoen.

In die tweede helfte het die Leeus hul weg woedend probeer terugveg om hul trotse tuisrekord teen Suid-Afrikaanse teenstanders te beskerm. Twee drieë is gedruk in ’n poging om die groot rustyd-agterstand van 17-0 in te haal.

Die skade wat die Bulle in die eerste helfte aangerig het, was egter genoeg om die Leeus hul eerste tuisnederlaag teen ’n Suid-Afrikaanse span in 15 wedstryde toe te dien.

Die Bulle word sodoende die eerste Suid-Afrikaanse span sedert die Stormers in Februarie 2015 wat die Leeus op Ellispark klop. En dít het hulle gedoen deur takties die korrekte wedstrydplan op te stel en dit meestal klinies uit te voer.

Van die begin af het die Pretoriase span hul groot voorspelers gebruik om die Leeus se beweeglike pak sat te maak met optel-en-dryf-bewegings en kort aangeë na enorme vories wat langs die losgemale afgestorm kom. Só het hulle veld gewen en die Leeus strykdeur op die agtervoet gehad.

Dit was die eerste fase van die plan. Die tweede fase was die wyse waarop hulle punte wou aanteken – óf deur die bal ná ’n paar blitsfases wyd te stuur, óf om strafskoppe af te dwing.

Laasgenoemde het meer gereed plaasgevind. Die Bulle het elke geleentheid om pale toe te skop, aangegryp. En Pollard mis selde.

Vir die Bulle was Pollard puik, meesterlik selfs, maar die voorspelers verdien die krediet vir dié sege.

Die rede waarom die Bulle se plan om die bal vinnig wyd te stuur ná harde voorspelerwerk nie soveel dividende gelewer het nie, is gewoon omdat die Leeus se skarrelverdediging puik was. Die ywer was daar. Die hart was daar. Die spierkrag egter nie.

Die Bulle het ook so lank as moontlik aan die bal probeer vashou en dít het hulle veral in die eerste helfte met onderskeiding reggekry. Die denkrigting is eenvoudig iets wat kannetjies al in gr. 1 geleer word – sonder die bal kan jy nie drieë druk nie.

En dít is wat die Leeus wou doen. Hulle wou drieë druk. Toe werk dit nie só uit nie en liewer as om drieë te druk, is hulle gevra om te têkkel, têkkel, têkkel. Was dit nie vir hul skitterende, dapper skarrelverdediging nie, het die Leeus dié wedstryd nog verder verloor.

Vir die Bulle was Pollard puik, meesterlik selfs, maar die voorspelers verdien die krediet vir dié sege. Die al-hoe-gryser-wordende haker, Schalk Brits, het gespeel met die energie van ’n man 15 jaar sy junior. Hy was die beste haker op die veld.

Marnus Schoeman, die Leeus se flank, het weer met durf en hart gespeel, al het hy ’n paar strafskoppe afgestaan. Soms is hart net nie genoeg nie.

Die Ellispark-skare is Saterdag vir die eerste keer teleurgestel toe die Leeus nie in hul Spiderman-pakkies op die veld gedraf het nie, omdat die kleurskemas gebots het. Dit was nie die laaste keer wat hulle teleurgestel is nie.

* Puntemakers:

Bulle 30 (14): Drieë: Duane Vermeulen, Warrick Gelant. Doelskop: Handré Pollard. Strafdoele: Pollard (6).

Leeus 12 (0): Drieë: Carlu Sadie, Dylan Smith. Doelskop: Elton Jantjies.

Meer oor:  Handré Pollard  |  Schalk Brits  |  Duane Vermeulen  |  Malcolm Marx  |  Embrose Papier  |  Ellispark  |  Bulle  |  Superrugby  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.