Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle se o.19’s sorg vir nog silwer

Die Blou Bulle se o.19-rugbyspan het “hard geveg” om die Westelike Provinsie gister in die eindstryd van die nasionale reeks in dié ouderdomsgroep te klop.

So sê Hayden Groepes, afrigter van die Pretorianers, nadat sy span met 32-24 in Kaapstad koning gekraai het.

Dankie, en daar vat hy! Die Blou Bulle se o.19-span nadat hulle die trofee as nuwe kampioen in ontvangs geneem het. Foto: Gallo

“Dit is altyd spesiaal om in die Kaap te wen en die spelers het hard gewerk vir die oorwinning. Die spelers wat ons het, het goed aangepas by die program wat ons by die Bulle het.

“Die spelers was verlede jaar nog op skool en ons het ’n baie kort tydjie gehad om voor te berei, omdat ons nie seker was of die kompetisie (wat vanjaar in ’n nuwe formaat beslis is) sou voortgaan nie. Maar dit is wonderlik om te wen,” sê Groepes.

Die Bulle was vroeg met 14-0 voor, danksy drieë deur die flank Hendrik Beukes en die stut Ethan Burger, met die losskakel, Lionel April, wat vier punte met doelskoppe bygevoeg het.

Tog het die Kapenaars so effens laat wakker geskrik en toe drie keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier om teen rustyd met 17-14 voor te loop.

Wat Groepes ook al teen rustyd aan sy spelers gesê het, het duidelik vrugte afgewerp, want die slot Werner Gouws het vroeg in die tweede helfte gaan druk. April het kort daarna die telling 22-17 in die guns van die Pretorianers gemaak toe hy ’n strafdoel deur die pale gejaag het.

Tog was die tuisspan se vuur nog lank nie geblus nie, en toe die senter Christie Grobbelaar kort daarna oorduik vir sy drie, het die Kapenaars weer die voorsprong geneem.

Maar toe die Bulle se Kabelo Mokoena kort daarna gaan druk het, was die skrif vir die Kapenaars aan die muur. Tog was daar ’n paar benoude oomblikke toe die wenspan se skrumskakel en kaptein, Bernard van der Linde, ’n minuut voor die eindfluitjie geblaas het met ’n geelkaart van die veld gestuur is.

Met die oorwinning het die Pretorianers verseker dat hulle vanjaar die o.19- en die o.21-beker staanplek op Loftus Versfeld gee.

Vir die WP was dit ’n dubbele dosis eina nadat sy o.21-span verlede maand in die eindstryd van dié reeks ook vasgeval het.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.