Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle-kopers ‘moet kultuur omarm’
Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU).Foto: Gallo Images

’n Finansiële inspuiting is belangrik, maar dit is van ewe groot belang dat ’n nuwe belegger die tradisie, waardes, etos en kultuur wat die Blou Bulle oor die afgelope 81 jaar gevestig het, omarm en voortsit.

Só sê Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU).

Die Blou Bulle het Woensdag met afvaardigings van Remgro en African Rainbow Capital begin onderhandel oor ’n moontlike belegging, wat dié maatskappye van onderskeidelik Johann Rupert en Patrice Motsepe, ’n beherende aandeel in die Blou Bulle Maatskappy (BBM) sal gee.

Remgro besit lank reeds ’n aandeel van 50% in die BBM en die voorstel is dat Rupert sy aandeel verminder na 37%, sodat Motsepe ook ’n aandeel van 37% kan koop.

Strauss sê die onderhandelings het “op ’n positiewe noot afgeskop” en sal in die volgende paar dae hervat word.

Hy verseker dat, hoewel die Bulle onder finansiële druk is en ’n finansiële inspuiting soos dié nodig het, daar nie ’n ooreenkoms aanvaar sal word wat nie in die Bulle-maatskappy en unie se beste belang is nie.

“Al die rolspelers moet voordeel trek uit die vennootskap.”

Dit is steeds onseker watter impak die beweerde wanbestuur, oorbesteding en korrupsie in die vorige bedeling op die Bulle se finansies gehad het, maar Strauss verseker dit sal nie hul besluitneming beïnvloed nie.

Dit sal ’n deurdagte besluit wees. Sou daar wel ’n ooreenkoms bereik word, sal ons nie vir beter vennote kon vra nie.
Willem Strauss

“Dit sal ’n deurdagte besluit wees. Sou daar wel ’n ooreenkoms bereik word, sal ons nie vir beter vennote kon vra nie.”

Hy sê hoewel daar in die Bulle-maatskappy belê sal word, moet dit ook finansiële volhoubaarheid van amateurrugby in die Blou Bulle- en Limpopo-streke meebring.

“Met die aantal kontrakte (van beroepspelers) wat aansienlik verminder word, sal ons klubstrukture vorentoe ’n al groter rol speel as ’n voedingsbron.

“Dit is ’n belangrike grondslag vir die Bulle. Jy bou immers nie ’n huis van die dak af ondertoe nie.”

Sarel van der Walt berig Motsepe het Donderdag op Agri SA se kongres in Pretoria erken hy is in gesprek met die Bulle om ’n belang by Loftus Versfeld te verkry.

Dié mynmagnaat, wat ook die eienaar van die sokkerklub Mamelodi Sundowns is, het aan kongresgangers gesê hy is ’n stoere Blou Bul-ondersteuner.

Johann Rupert Foto: Cornel van Heerden

Rupert het vandeesweek aan BusinessDay gesê hy en Motsepe het in die verlede gereeld daaroor gesels om rugby te versterk.

“Ek hou van Patrice en ons ken mekaar al baie lank. Hy het al ’n paar keer vantevore gesê dat hy daarin belangstel om in ’n rugbyspan te belê en Bulle maak vir hom sin.

“Hulle deel die stadion (Loftus) met Sundowns en ons albei sien die geleentheid om die Bulle ’n hupstoot te gee.

“Ons glo ons kan die span met ons beleggings meer aanloklik maak vir topspelers,” het Rupert gesê.

Die Bulle verloor vanjaar die dienste van die Springbokke Jesse Kriel, Handré Pollard, Duane Vermeulen, Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins.

Meer oor:  Willem Strauss  |  Johann Rupert  |  Patrice Motsepe  |  Pretoria  |  Bbm  |  Aandele  |  Rugby  |  Bulle  |  Kultuur  |  Sakemanne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.