Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle ‘slagoffers van eie sukses’, sê Strauss

Die Blou Bulle se sukkelvertonings in die Curriebeker-kompetisie is teleurstellend en kommerwekkend, maar ondersteuners moet dit nie in isolasie beskou nie.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU). Foto: Gallo Images

Dis die pleidooi van Willem Strauss, president van dié unie, aan keelvol Bulle-ondersteuners.

Daar was groot verwagtinge dat die Ligbloues vanjaar die Curriebeker vir die eerste keer sedert 2009 op Loftus Versfeld kon laat staan – veral nadat die Bulle vroeër die seisoen die voorste Suid-Afrikaanse span in Superrugby was.

Strauss gee toe dit is ’n bron van kommer dat die Bulle sedertdien net een uit vier Curriebeker-wedstryde kon wen. Hy sê die span het ’n nuwe laagtepunt bereik toe hulle Saterdagaand op Loftus teen Griekwas slae gekry het.

Ná dit is hulle nou heel laaste op die Curriebeker-puntelys en sal hulle in hul oorblywende twee wedstryde – teen die Goue Leeus en die Haaie – alles in die stryd moet werp om ’n promosie/relegasie-uitspeelstryd vry te spring.

“Daar is in die geheel baie om oor positief te wees by die unie,” sê Strauss.

“Ons verteenwoordigende spanne van skolevlak op boontoe het die seisoen ’n wenpersentasie van sowat 80% en daar word baie gedoen om ons klubs weer ’n gesonde voedingsbron vir die Bulle te maak.

“Dit is jammer van ons vertonings (in die Curriebeker-reeks), want dit is eintlik sover ’n goeie jaar vir die Bulle.

“Ons het die meeste verteenwoordigers in die Springbok-groep en spelers soos Lizo Gqoboka, Trevor Nyakane en Warrick Gelant, wat nou saam met die Bokke toer, het verlede seisoen Curriebeker-rugby gespeel.

“In ’n mate is ons die slagoffers van ons eie sukses.”

Dit is jammer van ons vertonings (in die Curriebeker-reeks), want dit is eintlik sover ’n goeie jaar vir die Bulle.
Willem Strauss

Volgens Strauss word daar haarfyn by Loftus beplanning gedoen vir volgende jaar se Superreeks.

“Die besef is vanselfsprekend daar dat ons vanjaar baie senior spelers verloor en dat dit ’n groot uitdaging is.

“Ons het nie volgende seisoen ’n Handré Pollard en ’n RG Snyman nie en sal ons spelers tot die beste van hul vermoëns moet ontwikkel.

“Dit gaan ook nie net daaroor om die groep te versterk nie, maar ook om vir Pote Human (die hoofafrigter) te bemagtig.

“Ons gesels byvoorbeeld met Johann van Graan oor ’n NFL-spesialis wat hulle by Munster betrek het. Die idee is dat ons daardie kundigheid ook vir Pote beskikbaar stel.

“Die een positiewe is dat Pote ’n behoorlike voorseisoen met al sy spelers sal hê.

“Daar was vanjaar sommige spelers wat eers ’n week of twee voor die Superreeks uit Japan teruggekeer het.”

Strauss erken dit is ’n uitdagende jaar by Loftus.

Dit het onder meer ’n omvattende regrukpoging ingesluit nadat Xander Janse van Rensburg, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se voormalige hoëprestasiebestuur, onder ’n wolk van omstredenheid by Loftus weg is.

Die BBM het op grond van ’n forensiese verslag besluit om ’n strafregtelike klag teen Janse van Rensburg in te dien en hy sal glo ook ’n siviele eis van sy voormalige werknemer moet verdedig.

Strauss sê die beweerde wanbestuur en oorbesteding (van Janse van Rensburg) het “vanselfsprekend ’n impak gehad op verskillende vlakke”.

“Die ondersoek sal hopelik binnekort afgehandel word en dan kan die Bulle daardie hoofstuk afsluit.”

Meer oor:  Pretoria  |  Rugby  |  Curriebeker-Reeks  |  Willem Strauss  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.