Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle soek PSDT, maar hy bly in Kaap

Die Kaap se ster-flank Pieter-Steph du Toit is in die Bulle se visier. Met die kontraktering van sy voorste spelers wat nog sloer, is die Bok-flank een van die Stormers se prominente spelers wat gejag word om die Kaap te verlaat.

Rapport het betroubaar verneem dat die Bulle reeds ’n aanloklike aanbod aan Du Toit gedoen het.

Pieter-Steph du Toit

Daar is na bewering steeds ongelukkigheid onder die WP se Bokke oor hoe die kontrakteringsproses vanjaar gehanteer word. Die proses is nog nie afgehandel nie, al het die kontrakteringseisoen op 1 Julie begin.

Rapport verneem dat dit ’n uitgemaakte saak is dat die WP die agtsteman Sikhumbuzo Notshe aan die Haaie gaan afstaan.

Hy het ook groot geldelike aanbiedinge van die Bulle en Leeus gekry, maar verkies Durban as sy nuwe rugbytuiste. Dit is glo ondanks die Bulle se groter aanbod.

Goeie nuus vir die WP is wel dat Siya Kolisi, die Bok-kaptein, hom reeds verbind het om by die unie aan te bly.

Du Toit is tans een van die land se voorste spelers en die Bulle is gretig om hom oor te haal om in Pretoria sy rugby te speel.

Dit sal egter ’n gewigte besluit vir die witkopflank wees, want buiten dat hy ver van hul familieplaas in die Swartland sal wees, sal hy ook sy broer Johan by die WP agter laat.

Die Bulle maak dit duidelik dat hulle alles in hul vermoë sal doen om Du Toit op Loftus te kry.

“Ons stel beslis belang in hom,” het Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bul Maatskappy, aan Rapport gesê.

“Ons is geïnteresseerd in hom, hy is ’n Springbok en ’n ongelooflike speler – die beste seweflank tans in die wêreld.

“Ons sal – as hy belang stel – agteroor buig om hom op Loftus te kry,” het Meyer gesê.

Ons sal – as hy belang stel – agteroor buig om hom op Loftus te kry.
Alfons Meyer

Die Bulle het vanjaar met Schalk Brits en Duane Vermeulen ooreenkomste gesluit wat dié Bokke toegelaat het om tydens die Superreeks gereeld na Kaapstad te vlieg om by hul gesinne en familie te wees.

Die Kaapse rugbyunie sal Du Toit nie maklik laat gaan nie. Volgens Rapport se inligting het al die WP se Bokke reeds in die laaste week hul aangepaste kontrakte ontvang, maar teen druktyd het die WP nie enige getekende kontrakte teruggekry nie.

Die kontrakte is ook ’n sogenaamde drieledige kontrak tussen die speler, die WP se sakevleuel en die WPRU. Hierdie nuwe manier van kontraktering skep onsekerheid by die spelers.

John Dobson

Rapport verneem die Stormers se afrigter, John Dobson, en die hoëprestasiebestuurder, Greg Hechter, speel ’n groot rol in die proses om die spelers by die WP te hou.

Rapport het navrae aan die WPRU asook die sakevleuel se uitvoerende hoof, Paul Zacks, per WhatsApp en e-pos gestuur. Rapport het Gerrie Swart, Du Toit se agent, ook genader vir kommentaar. Teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.

  • Intussen het Zelt Marais, president van die WPRU, ontken dat hy ooit voorgestel het dat die baas van die Independent-mediagroep, dr. Iqbal Survé, die nuwe voorsitter van die WP-sakevleuel se direksie moet word.

Rapport het berig oor die beweerde voorstel dat Survé by dr. Johan van der Merwe moet oorneem.

“Ek wil dit op rekord plaas dat die stelling onwaar is. Ek ontken dat ek dit gesê het of enige soortgelyke stelling gemaak of gekommunikeer het op enige forum,” sê Marais.

Meer oor:  Stormers  |  Bulle  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Spelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.