Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle te sterk vir dapper Leeus op Ellispark
Die Bulle-vleuel Travis Ismaiel sit voet in die hoek in sy span se sege Saterdag oor die Leeus op Ellispark. Foto: Gallo Images

Dit is maar beter dat die deure van ’n kleedkamer met die rustyd van ’n rugbywedstryd agter die spelers toegetrek word.

Want ’n mens vermoed die woorde wat Saterdagaand op Ellispark in die Bulle s’n geval het, was straks nie geskik vir publikasie in ’n gesinskoerant nie.

Ná ’n eerste helfte waarin hulle harde bene in die skrums gekou het en deur die vernuf van ’n jong Leeus-span uitoorlê is, het die Bulle die Goudstad uiteindelik met ’n lied in die hart verlaat danksy ’n tweede helfte vol hoogtepunte.

Veel beter skrumwerk, groter selfvertroue by die lynstane, die veilige skopskoen van Morné Steyn en die vonkelvoete van Loftus se Blitsbok-brekers het die Bulle ’n oorwinning van 30-25 in hul Superrugby Unlocked-wedstryd op Ellispark besorg.

Maar anders as hul vorige twee, teen die Haaie en Stormers, wat totaal weggeblaas is, was hierdie ’n sege waarvoor die Bulle moes hard werk.

Carlu Sadie

Die Bulle het as gunsteling by Ellispark opgedaag, nadat hulle twee weke gelede uiteindelik begin speel het soos dit ’n span vol supersterre en opwindende jongelinge betaam. Die Leeus het wel vooraf gewaarsku hulle het ’n pak wat kan opstaan teen die Bulle s’n. Daar is ook daad by die woord gevoeg deur reeds in die derde minuut, op die Pretorianers se ingooi, hul eerste skrum-strafskop van die aand te wen.

Met Carlu Sadie, Sti Sithole en die oud-Bul Jaco Visagie honger om hul stempel af te druk, het die Leeus-agterlyn ’n wonderlike platform gehad om van te speel.

Met die rustyd het die tuisspan sy neus voor gehad, ná twee drieë teenoor een.

Ná die draaislag het die momentum egter stadig maar seker in die besoekers se guns begin swaai.

Hul baldraers het eensklaps met meer dringendheid begin vorentoe beur en veral hul mees gedugte baljagter, Marco van Staden, het beklemtoon waarom hy dié reputasie het.

Steyn se skopskoen het telbord-druk op die Leeus begin plaas en die Johannesburgers het al hoe meer foute begaan.

Die grootste daarvan is deur hul kaptein, Elton Jantjies, begaan wat die bal ná ’n swak Bul-lynstaan 10 m van sy doellyn af wild weggegooi het. Net vir die Bulle se Blitsbok Stedman Gans om toe te slaan.

Gans het nooit twee uitnodigings nodig om só ’n geleentheid te benut nie.

Hy het die bal onderskep, sentimeters van die grond af vasgevat, en langs die regter-doelpaal oor die lyn getuimel. Dis toe dat ’n mens begin vermoed die vet dame maak keel skoon.

Hy het die bal onderskep, sentimeters van die grond af vasgevat, en langs die regter-doelpaal oor die lyn getuimel. Dis toe dat ’n mens begin vermoed die vet dame maak keel skoon.

Die Leeus se moed is egter nie gebreek nie, wat ’n uitmuntende individuele drie deur Wandisile Simelane (wat vier verdedigers na lug laat gryp het) het die tuisspan weer hoop gegee.

Elton Jantjies

Maar toe Kurt-Lee Arendse ses minute later oor die ander doellyn wals, ná ’n minuut waarin die Bulle sagmaak-rugby met vinnige hande opgevolg het, was die koeël deur die kerk.

Daarna was die beste waarvoor die tuisspan kon hoop ’n bonuspunt vir ’n nederlaag met minder as sewe punte, wat Elton Jantjies in die doodsnikke met ’n strafdoel verseker het.

Puntemakers: Bulle 30 (10): Drieë: Joe van Zyl, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse. Doelskoppe: Morné Steyn (2). Strafdoele: Steyn (3).

Leeus 25 (15): Drieë: Burger Odendaal, Morné van den Berg, Wandisile Simelane. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafdoele: Jantjies (2).

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Elton Jantjies  |  Marco Van Staden  |  Johannesburg  |  Pretoria  |  Rugby  |  Ellispark  |  Bulle  |  Superrugby Unlocked-Reeks  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.