Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle vergader Maandag met White

Hulle besef Jake White se reputasie loop hom vooruit en daar sal Maandag by Loftus Versfeld harde vrae aan dié voormalige Springbok-afrigter gestel word, sê Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM).

Word hy beskou as die groot hoop by Loftus Versfeld? Jake White vergader Maandag met die Bulle se besluitnemers in Pretoria.Foto: Getty Images

White is een van die kandidate wat geoormerk is as ’n moontlike opvolger vir Alan Zondagh se vakante direkteur van rugby-pos.

Meyer het bevestig hulle vergader Maandag by Loftus met White.

“Ons praat met baie ouens, waarvan Jake een is. Daar is eintlik nog nie sekerheid of ons wel die pos gaan vul en of dit dalk vorentoe met die hoofafrigter (se pos) gekombineer sal word nie.

“Die vergadering met Jake is niks meer as om uit te vind waar hy in sy loopbaan is en watter visie hy vir die Bulle kan hê nie.

“Daar is beslis nie sprake dat hy in die binnebaan is nie.”

White, wat die Bokke in 2007 tot Wêreldbeker-glorie gebrei het, is in 2014 uit die bloute weg uit Durban nadat hy nie eens ’n volle seisoen die Haaie se afrigter was nie.

Hy het glo ingestem om as dié franchise se direkteur van rugby te bedank nadat die spelers in opstand gekom het oor sy outokratiese benadering.

Hy het Montpellier in Frankryk en die Japannese klub Toyota Verblitz sedertdien afgerig.

Meyer sê hulle is bewus van White se verlede en sal hom daarom “harde vrae” vra.

Die gerug dat White binnekort die kitaar by Loftus kan slaan, ontlok gemengde reaksie in rugbykringe.

Pote Human Saterdag op Loftus Versfeld.Foto: Gallo Images

Boonop skep dit glo onsekerheid in die Bulle-kamp voor die span se toer in die Superreeks na Australasië.

Nie die BBM of die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) het die hoofafrigter, Pote Human, in kennis gestel van die ontmoeting met White nie.

In sommige kringe word dit – gegewe die Bulle se sukkelvertonings in die Superreeks vanjaar – beskou as ’n mosie van wantroue in Human.

’n Lid van die Bulle-toerspan het vertroulik aan Netwerk24 gesê “jy sou dink dat Pote as hoofafrigter in die saak geken sal word”.

“Dit kan nie lekker vir Pote wees om die stories oor Jake in die media te lees nie. Dink net hoe groot die ontnugtering sal wees as Pote dalk eerdaags verneem hy doen nou verslag aan Jake White.”

Zondagh het verlede maand, ná net meer as ’n jaar by Loftus, versoek om van sy pligte onthef te word om meer tyd saam met sy vrou deur te bring.

Meer oor:  Jake White  |  Direkteur Van Rugby  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.