Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle verkoop ’n ‘droom’
Die feit dat groot name soos Handré Pollard langtermyn-kontrakte by die Bulle het, maak dit makliker om spelers na dié unie te lok.Foto: Deaan Vivier

Jy moet probeer om ’n speler te laat inkoop in die visie dat hy deel gaan wees van iets spesiaals by Loftus Versfeld.

Want jy gaan altyd tweede kom teen die euro, pond en jen, sê Xander Janse van Rensburg, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se hoëprestasiebestuurder.

Suid-Afrikaanse rugby voer toenemend ’n verbete stryd om spelers hier te hou.

Die Bok-losvoorspeler Arno Botha het onlangs aangekondig hy gaan ná afloop van die Superrugby-reeks vir Ulster in Ierland speel.

Die belowende jong vaskopstut Etienne Swanepoel het ’n dag of wat vroeër ’n kontrak met Stade Français gesluit en is stil-stil vort Frankryk toe.

“Ons kan nie finansieel meeding nie, so ons moet ’n ander trekpleister hê. By die Bulle verkoop ons die droom dat ’n speler by Loftus deel sal wees van ’n groep wat in ’n kampioenspan ontluik.

“Dit help natuurlik dat spelers soos Jesse Kriel, Jan Serfontein, Handré Pollard, Adriaan Strauss en Lood de Jager vir die Bulle speel.”

Janse van Rensburg sê die dae wat Heyneke Meyer vir sewe tot agt seisoene met ’n kern spelers gebou het aan ’n wenspan, is verby.

Die Bulle het sedert 2014 talle spelers soos Botha, Marcel van der Merwe, Francois Hougaard, JJ Engelbrecht, Pierre Spies, Jacques du Plessis, Lappies Labuschagné, Deon Stegmann, Grant Hattingh, Paul Willemse, Flip van der Merwe, Werner Kruger en Dean Greyling se dienste verloor.

"By die Bulle verkoop ons die droom dat ’n speler by Loftus deel sal wees van ’n groep wat in ’n kampioenspan ontluik."

En in 2013 het die Bulle ’n groot gros topspelers verloor toe Juandré Kruger, Wynand Olivier, Morné Steyn, Jano Vermaak, Zane Kirchner, Chiliboy Ralepelle, Dewald Potgieter en Jacques­ Potgieter op ’n streep oorsee is.

Dan is daar ook die verlies aan opkomende sterre soos Swanepoel, Nicolaas Janse van Rensburg en Wiaan Liebenberg, wat die Bulle se diepte verder uitgedun het.

Suid-Afrikaanse Superrugby-franchises sal agteroor buig om byvoorbeeld die voormalige Bulle-slot Paul Willemse, wat uitstekende rugby vir Montpellier in Frankryk speel, terug te lok.

“Die werklikheid is dat Paul nou heeltemal te duur is. Ons sou graag ook vir Jacques (Du Plessis) wou terughê, maar ek sal verbaas wees as hy ooit weer terugkeer.”

Die gewese Bul-slot Paul Willemse, hier vir Montpellier teen Harlequins in aksie, het “te duur geword” om terug te lok na Suid-Afrika.Foto: Getty Images

Janse van Rensburg benadruk die uitdaging is om te verseker dat jong manne soos RG Snyman en Jason Jenkins nie in die afsienbare toekoms – soos Willemse en Du Plessis – in Frankryk speel nie.

“Afgesien van die stroom spelers wat oorsee gaan, het die mark in Suid-Afrika meer mededingend geword. Die vermoë van ’n hoofafrigter om slim op kort- en langtermyn te beplan, is van groot belang.

“Jy moet goed kontrakteer en probeer om jou jong spelers vinniger ryp te kry vir senior rugby.”

Daar is ’n opvatting in Suid-Afrikaanse rugby dat die Bulle miljoene uithaal om die voorste spelers op skoolvlak by ander unies af te rokkel.

“Elke unie probeer om die room op skoolvlak te skep, maar slegs 10% van ons totale begroting gaan aan die spelers van die o.19- tot o.21-spanne.”

Die Bulle is in die gunstige posisie dat Strauss, Kriel en Pollard tot 2019 kontrakte het.

Die BBM hoop intussen hulle kan Serfontein en De Jager, wie se Bulle-kontrakte aan die einde van die seisoen verstryk, langer by Loftus hou deur middel van nuwe Springbok-kontrakte.

“ ’n Rugbytuiste waar spelers soos ’n familie saamgesnoer word tot voordeel van hulle loopbane, is ons enigste onderhandelingsmag.”

Meer oor:  Superrugby  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.