Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle verras met kontrak vir oud-Bok Cornal
Cornal Hendricks word in 2015 in Johannesburg deur ’n verdediger van die All Blacks platgetrek. Foto: Gallo Images

Die vergete oud-Springbok Cornal Hendricks se rugbyloopbaan het uit die as verrys met die nuus dat die Bulle hom vir aanstaande jaar se Superrugby-reeks gekontrakteer het.

Hendricks (30) het sy toetsbuiging in 2014 gemaak en die Bokke in 12 toetse op vleuel verteenwoordig, voordat hy die laaste paar jaar met sy gesondheid gesukkel het.

’n Hartkwaal is vroeg in 2016 by hom gediagnoseer, waarna sy kontrak by die Stormers tersyde gestel is en hy hom later daardie jaar by die Franse klub Toulon aangesluit het.

Die klub het egter vroeg in 2017 besluit dat dit ’n te groot risiko is om die oud-Blitsbok te kontrakteer, en het hom ook die rug toegekeer.

Kort daarna het die Bulle aangekondig dat hy hom vir mediese en fiksheidstoetse in Pretoria aangemeld het. Skaars ’n maand later het die Bulle gesê dat hulle op grond van mediese advies besluit het om Hendricks nie te kontrakteer nie.

Laat in 2017 was die Southern Kings ook van mening dat dit ’n té groot risiko sou wees om die vleuel te kontrakteer en was sy loopbaan vir alle praktiese redes in ’n doodloopstraat.

Ná die Kings hom ’n koue skouer gegee het, het hy wel in 2017 by geleentheid vir die Bolandse klub Roses United gespeel.

Die groot probleem met Cornal se hartkondisie was dat dit bitter moeilik vir ’n unie sou wees om mediese versekering vir hom uit te neem.

Soos met enige rugbyspeler wat die mooi spel speel, is ek ten volle bewus van die risiko’s wat daarmee gepaardgaan om ’n gekontrakteerde speler by die Bulle te wees.
Cornal Hendricks

Die Bulle het egter Vrydag in ’n mediaverklaring gesê dat Hendricks deur ’n vooraanstaande hartspesialis gesond verklaar is om te speel en dat die vleuel ten volle bewus is van sy diagnose en risiko verbonde aan sy hartkwaal.

“Soos met enige rugbyspeler wat die mooi spel speel, is ek ten volle bewus van die risiko’s wat daarmee gepaardgaan om ’n gekontrakteerde speler by die Bulle te wees,” sê Hendricks in die verklaring.

“Ek het die afgelope twee jaar aan ’n aantal uitnodigingstoernooie regoor die wêreld deelgeneem en sien daarna uit om weer deel van ’n spanstruktuur en groep te wees. Die Bulle is beslis ’n span wat verbetering toon, so ek is opgewonde om daarvan deel te wees.”

Hoewel daar nêrens in die verklaring daarvan melding gemaak word nie, sal dit nie verbaas nie as Hendricks ’n klousule in sy kontrak met die Blou Bulle Maatskappy het wat die werkgewer daarvan vrywaar sou hy weer las van sy hart kry.

Xander Janse van Rensburg, hoëprestasiebestuurder van die Bulle, sê die unie is bly hulle kan Hendricks die geleentheid gee om weer rugby op die hoogste vlak te speel.

“Hy is nie net ’n goeie speler nie, maar ’n Springbok en ’n spanspeler, wat gemaklik by die Bul-familie sal inpas.”

Meer oor:  Cornal Hendricks.  |  Pretoria  |  Rugby  |  Bulle  |  Springbok  |  Kontrak  |  Vleuel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.