Die Bulle het hul naam in die hoed gegooi as ’n nuwe heenkome vir Will Skelton.
Hul belangstelling in die 27-jarige Wallaby is ’n aanduiding dat Pretoria se rugbybase nie heeltemal gemaklik is met hul diepte op slot vir die Superreeks nie.
Skelton is een van die eerste sterspelers wat deur Saracens vrygestel kan word nadat die Londense klubspan die salarisperk van Engelse rugby oortree en kwaai beboet is.

Will Skelton
Hulle is weens die oortreding uit die Engelse Premierliga gerelegeer.
Skelton is bewus van die belangstelling wat hy uit Pretoria geniet, maar het nog nie ’n aanduiding gegee waar hy in die toekoms sy rugby sal speel nie.
Skelton, wat 2,03 m lank is en 125 kg weeg, het 18 keer vir die Wallabies gespeel voordat hy Engeland toe is.
Sy kontrak by Saracens beloop volgens Fox Sports nagenoeg £400 000 per jaar (sowat R7,5 miljoen).
Met Lood de Jager (Sale Sharks), Jason Jenkins (Toyota Verblitz), RG Snyman (Honda Heat), Jean Droste (NEC Green Rockets) en Eli Snyman (Treviso) wat Pretoria verlaat het, lyk Andries Ferreira en Juandré Kruger na Human se eerstekeuse-slotpaar vir Superrugby.
Human kan ook slotte soos Ryan Nortjé, Ian Groenewald en Ryno Pieterse oorweeg, maar Skelton kan die Bulle se agttal waardevolle spierkrag gee.
Ongelukkig vir die Bulle is daar verskeie spanne in Australië en Europa wat ook in Skelton belang stel en Human-hulle se kanse bemoeilik om hom te oorreed om Suid-Afrika toe te skuif.
Ofskoon daar al oproepe vanuit Pretoria oor die beskikbaarheid van Skelton gemaak is, is die gesprekke tussen hulle in ’n vroeë stadium.
Die Bulle het nog nie eens ’n aanbod aan hom gemaak nie.
’n Groter kans bestaan egter dat Skelton, eerder as sy Springbok-spanmaat Vincent Koch, ’n Bul sal word.
Die 29-jarige Koch is nog tot 2023 deur Saracens gekontrakteer, maar is ná die Engelse klubspan se salarisperkoortredings onverwags terug in die mark.
Sy agent, Gert van der Merwe, het aan Rapport gesê ’n skuif terug na Suid-Afrika lyk tans onwaarskynlik vir Koch.
“Die Bulle en Rassie Erasmus is regtig bereid om Vincent met ope arms terug te verwelkom,” het Van der Merwe gesê.
“Vincent is ook lojaal teenoor Saracens en sy spanmaats. Ons sal Saracens net verlaat as dit nodig is om die voortbestaan van die span te verseker sodat hulle nie die salarisperk oorskry nie.”
Koch speel al van 2016 vir Saracens. Hy kan sy rugby vir nog twee jaar in Engeland by Bath, Harlequins en Sale Sharks speel, wat hom almal wil kontrakteer.
Koch kry sy Engelse burgerskap oor twee jaar, wat ’n groot invloed op sy besluit sal hê waar hy sy rugby speel. ’n Groter kans bestaan dat hy eers daarna na Suid-Afrika sal terugkeer.
Die Bulle sal teleurgesteld wees dat Koch langer in Engeland wil aanbly, maar het in Conraad van Vuuren se afwesigheid in Trevor Nyakane en Wiehahn Herbst goeie diepte op vaskopstut.