Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle wil Liverpool-teëspoed vermy

Die Bulle waak die seisoen daarteen om in dieselfde slagyster te trap as die sokkerspan van Liverpool.

Dít is die vergelyking wat Nizaam Carr, Springbok-losvoorspeler van die Bulle, Dinsdag getref het toe hy oor die 2021-seisoen uitgewei het.

Die Bok Nizaam Carr verlede seisoen op die aanval vir die Bulle teen die Westelike Provinsie op Nuweland. Foto: Gallo Images

Liverpool het verlede seisoen die Engelse Premierliga vir die eerste keer in 30 jaar gewen, maar tel sover in die 2020-’21-seisoen nie onder die voorste vyf spanne nie en het hul vier laaste wedstryde verloor.

Die Bulle het op hul beurt verlede seisoen die plaaslike Superreeks en Curriebeker gewen en Carr sê hulle wil nie dieselfde paadjie as die Reds loop nie.

“Dit is wat gebeur. As jy bo is, wil spanne jou klop. So jy moet dinge anders doen om daar te probeer bly.”

Hy sê dit is in pas met die boodskap in die Bulle-kamp voor die komende voorbereidingsreeks.

“Ons moet dit nou na die volgende vlak neem, wat dit ook al vir elke speler beteken.

“Of dit is om na jou dieet te kyk, harder te oefen of dinge anders te benader ná wedstryde, die onus is op almal om eienaarskap te neem en te verbeter op dit wat ons verlede seisoen gedoen het.”

Carr sê hy is oorgehaal om saam met die jonger spelers wat speelkans in dié reeks gaan kry, ’n plek in die beginspan oop te speel.

Die Bulle begin Sondag tuis teen die Oostelike Provinsie.

“Dit is ’n groot geleentheid en dit is ons motivering.

“As jy ’n jong outjie is en jy kla (omdat dit nie groot rugby is nie), is jy in die verkeerde sport. Dan moet jy gholf of ’n ander individuele sport gaan speel.

As jy bo is, wil spanne jou klop. So jy moet dinge anders doen om daar te probeer bly.
Nizaam Carr

“Gebruik die kans en wys vir Jake (White) jy wíl in die span wees.

“Ek het nog nie soveel gespeel soos wat ek graag wou nie, en sien daarna uit om daardie kans te kry.”

Hy het verlede jaar ’n Bul geword ná ’n paar seisoene by London Wasps in Engeland en Carr sê Pretoria is sedertdien goed vir hom en sy gesin.

“Toe ek (in 2018) uit die Kaap weg is, het dit my in ’n omgewing geplaas waarin ek groter verantwoordelikheid moes neem as die pa vir ’n eenjarige seun en dit het my lewensuitkyk verander.

“Ons is gelukkig in Pretoria. Mense sê hier is nie baie om te doen nie, maar as jy ’n punt daarvan maak om elke dag iets te kry, raak dit vinnig die beste besluit (om by die Bulle aan te sluit).

“Ek het altyd gesê ek wil net by een franchise speel, wat die Stormers was, maar al die geleenthede wat sedertdien op my pad gekom het, het my oë oopgemaak.

“So is dit ook nou fantasties om my loopbaan voort te sit saam met ongelooflike mense soos Jake (White), Duane (Vermeulen), Gio (Aplon), Cornal (Hendricks), Stedman (Gans) en almal wat hier betrokke is.”

Die Bulle speel in die voorbereidingsreeks ook teen die Pumas, Stormers en die Haaie.

Meer oor:  Nizaam Carr  |  Blou Bulle  |  Liverpool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.