Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle wil spens met Vorster aanvul
Vorster twee jaar gelede in ’n Leeus-trui. Foto: Gallo Images

Die Bulle se afrigter, Jake White, kan binnekort sy spelerspens verder aanvul met die senter Harold Vorster, wat eersdaags na Suid-Afrika terugkeer ná meer as twee jaar in Japan.

Vorster, ’n oud-Leeu wat sy staal in Johannesburg gewys het terwyl hulle tussen 2016 en 2018 in drie agtereenvolgende Superrugby-eindstryde gespeel het, is deesdae by Robbie Deans se Panasonic Wild Knights in Japan. Sy kop staan egter nou huis toe.

Die Leeus is glo ook op jag na dié sterk senter se handtekening, maar Rapport se bronne glo hy sal Pretoria as sy nuwe rugbytuiste verkies – veral omdat hy as junior vir die Limpopo Blou Bulle gespeel het.

Vorster het 60 keer vir die Leeus uitgedraf en ook as ’n jong speler vir die Universiteit van Johannesburg en die SA o.20-span uitgedraf.

Die Bulle se talentsoekers is deesdae baie besig, met White vasbeslote om ’n onkeerbare rugbykrag in Pretoria te vestig en die trofeë aan te hou inryg.

Die losvoorspeler Marcell Coetzee het verlede week in Pretoria aangekom en hoop om ná sy rehabilitasie by Loftus Versfeld in Junie sy buiging vir White se span te maak.

Die Bok-losskakel Johan Goosen sal in Julie beskikbaar wees vir die Bulle.

Die Pretorianers het ’n rykdom aan senter-opsies. White het tot dusver meestal vir Stedman Gans en Cornal Hendriks in die middelveld aangewend, en het ook spelers soos Jay-Cee Nel, Marnus Potgieter en Diego Appolis op sy boeke.

Stravino Jacobs kan ook in die middelveld ingespan word – en Goosen en Vorster natuurlik ook, sou hulle Bulle word.

Om White selfs meer van ’n huppel in die stap te gee, is die beseerde agterspelers Gio Aplon en Travis Ismaiel albei amper weer op die been.

White het Vrydag gesê albei moet net toestemming van ’n spesialis kry voordat hulle weer op die veld mag draf.

“Gio se besering is een wat ses, sewe maande vat om reg te kom en hy is nou in maand vyf. Hy lyk goed, maar ons wil geen kanse vat nie.

“Hopelik gee die spesialis vir albei die groen lig. Dan sal hulle binne twee weke terug by ons wees.”

Meer oor:  Jake White  |  Harold Vorster  |  Bulle  |  Leeus  |  Senter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.