Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulle wou Ackers na Loftus lok

Jammer, dit is buite die kwessie.

Die rugbybase van Munster en Gloucester het onomwonde dié boodskap vir die Blou Bulle gehad toe daar navraag gedoen is oor die moontlikheid om met dié oorsese spanne se hoofafrigters, Johann van Graan en Johan Ackermann, in gesprek te tree.

Johan Ackermann, afrigter van die Engelse span Gloucester. Foto: Getty Images

Die Bulle is in die proses om ’n kortlys te finaliseer vir die pos wat vakant gelaat is toe John Mitchell verlede maand deur Engeland as sy nasionale span se verdedigingsafrigter aangestel is.

’n Advieskomitee wat die Bulle saamgestel het om ’n nuwe hoofafrigter te vind, het Munster en Gloucester volgens inligting genader om vas te stel of Ackermann, voormalige hoofbreier van die Leeus, en Van Graan, wat nog verlede seisoen ’n Springbok-hulpafrigter was, in die pos sou belangstel.

Albei klubs het die versoek glo summier afgekeur.

Van Graan was verlede jaar sterk in die wedloop om as die Bulle se hoofafrigter by Nollis Marais oor te neem, maar Mitchell is uiteindelik as die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se hoof van rugby aangestel.

Van Graan is toe aan die einde van die seisoen as Munster se hoofafrigter aangestel nadat die Bokbreier, Rassie Erasmus, dié Ierse klub verlaat het om na Suid-Afrika terug te keer.

Munster het by monde van ’n woordvoerder beklemtoon dat Van Graan in die eerste seisoen van ’n kontrak van drie jaar is.

Ackermann het ook verlede seisoen by Gloucester in Engeland aangesluit as hoofafrigter.

Victor Matfield is glo sterk in die wedloop om die Bulle eersdaags onder hande te neem ter voorbereiding vir 2019 se Superreeks. Foto: Gallo Images

Daar word verneem die voormalige Springbok-slot van die Bulle Victor Matfield is danksy sy onmiddellike beskikbaarheid in die binnebaan om die Bulle volgende seisoen in die Superreeks in oorleg met Erasmus af te rig.

Dit tel glo in Matfield se guns dat hy ywerig is om saam met Erasmus te werk.

Volgens gerugte was dit juis Erasmus se beplande betrokkenheid by die span wat meegebring het dat Jimmy Stonehouse, die Pumas se direkteur van rugby, laat besluit het om hom as ’n kandidaat te onttrek.

Pote Human, wat die Ligbloues in die Curriebeker-kompetisie afgerig het, behoort een van die hulpafrigters te wees.

Die Kings-afrigter, Deon Davids, se naam word ook steeds genoem, maar hy word slegs as ’n buiteperd by Loftus Versfeld beskou.

* Van Graan se pa, Barend, die BBM se uitvoerende hoof, en Erasmus is lede van die advieskomitee.

Meer oor:  Bulle-Afrigter  |  Gloucester  |  Johan Ackermann  |  Munster  |  Johann Van Graan  |  Victor Matfield  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.