Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bulletjies nou ’n bedreigde spesie
Nollis Marais, die Bulle se hoof van junior spanne en voormalige hoofafrigter van die Bulle. Foto: Gallo Images

Lede van die Bulle se Klas van 2014, ’n groep spelers van wie destyds groot dinge in Pretoria verwag is, is nou ’n bedreigde spesie by Loftus Versfeld nadat Warrick Gelant besluit het om ’n Stormer te word.

Hy en die flank Ruan Steenkamp is van die enkele spelers wat oorgebly het van daardie jaar se juniors.

Daar is ses seisoene gelede voorspel dié groep o.21’s en o.19’s is die volgende Bulle-kampioenspan in wording.

Die Junior Bokke het in 2014 nie minder nie as 15 Bulle in hul Wêreldbeker-groep (uit 30 spelers) gehad – Gelant, die kaptein, Handré Pollard, die Kriel-broers, Jesse en Dan, Duhan van der Merwe, Rohan Janse van Rensburg, JP Smith, Nicolaas Janse van Rensburg, Abongile Nonkontwana, Pierre Schoeman, Wilco Louw, Mox Mxoli, Dayan van der Westhuizen, Corniel Els en Arno van Wyk.

Voeg die name van Jacques du Plessis, Jannes Kirsten, Roelof Smit en Marvin Orie by en jy kan verstaan waarom die Ligbloues ook in 2014 die nasionale o.21-kampioen was.

Die o.19-Bulle, wat daardie seisoen in die eindstryd teen die Westelike Provinsie verloor het, het self vir Ivan van Zyl, Hanro Liebenberg, RG Snyman en Jason Jenkins in hul geledere gehad.

Die kern van dié indrukwekkende junior spanne was bestem om die goue span van Victor Matfield-, Fourie du Preez- en Pierre Spies-hulle na te doen.

Dit bly een van die raaisels by Loftus dat dit nooit gebeur het nie.

Die Bulle het laas in 2009 die Curriebeker verower en het verlede seisoen vir die eerste keer in ses jaar in die Superreeks se kwarteindronde gespeel.

Ruan Steenkamp het die Blou Bulle se o.21-span in 2014 aangevoer toe hulle die voorste span in die land was. Foto: Gallo Images

Nollis Marais, in 2014 die afrigter van die o.21-span en later die Bulle se Superrugby-breier, sê daar was nooit genoeg ervaring rondom die begaafde groep jongelinge nie.

“Daar het deurgaans te veel senior spelers verlore gegaan.

“In my eerste seisoen van Superrugby (2016) was RG, Jason en Marvin my slotte en hulle het 12 wedstryde se ervaring in die kompetisie tussen hul gehad.

“Ons het toe iemand soos Jacques du Plessis (wat in 2015 Frankryk toe is) in die groep gekort.

“Dit was eintlik ’n vloek vir die Bulle om soveel talentvolle spelers te hê.”

Marais sê dit is jammer om Gelant te verloor in ’n tyd wat hy die Bulle se opkomende agterspelers onder sy vlerk moes neem.

“Warrick is wel in sy sewende seisoen by die Bulle. Dink net wat kon gebeur het as die meeste van die 2014-groep so lank hier gebly het.

“Die senior span kon dan baie meer sukses behaal het. Dit is die uitdaging, om jou jong talent minstens vyf seisoene te behou voordat hulle aanskuif.”

Hy sê dit kan baie waardevol vir ’n jong speler soos die agtsteman Muller Uys wees om in 2021 onder die Bok Duane Vermeulen te speel.

“Ek dink Muller is ’n toekomstige Bulle-kaptein en hy sal baie leer by Duane.

“Die Bulle het ná 2019 van voor af begin met ’n kringloop en daar is steeds baie talentvolle spelers soos Muller, Dawid Kellerman, Richard Kriel en Marnus Potgieter.”

Die Bulle se junior spanne (o.21 en o.19) het verlede jaar albei in die nasionale kampioenskap geseëvier.

Meer oor:  Warrick Gelant  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.