Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Burgemeester bied dienste vir Blitsbokke aan

As die Blitsbokke die naweek sukkel om hond haaraf te maak in die Kaapstad-sewestoernooi, moet hulle op die knoppie van Dan Plato, die stad se burgemeester, druk.

Só het Plato Donderdag by die Cullinan-hotel in Kaapstad geskerts tydens die Suid-Afrikaanse sewesspan se fotosessie.

Die Blitsbokke het ondertekende truie aan Plato, Alan Winde, die LUR vir gemeenskapsveiligheid en ’n kandidaat om Helen Zille as premier van die Wes-Kaap op te volg, en Anroux Marais, LUR vir kultuursake en sport, oorhandig.

“Ek het vir Neil Powell (afrigter van die Blitsbokke) gesê dat as hulle probleme op die veld opdoen, ek, Alan Winde en Anroux Marais daar is. Hys net die rooi vlag, dan hardloop ons op die veld om te gaan help,” sê Plato.

Hy het vinnig bygevoeg: “Dis nou maar net ’n ou grappie.”

Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR van kultuursake en sport, Alan Winde, LUR van gemeenskapsveiligheid, en Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, met die truie wat die Blitsbokke aan hulle oorhandig het. Foto: Gallo Images

Die burgemeester sê die naweek se toernooi is nie net ’n ekonomiese inspuiting vir Kaapstad nie, maar ook vir die Wes-Kaap.

“Die spanne kom natuurlik nie net met spelers hier aan nie, hulle bring ook gaste en ondersteuners saam met hulle. Die spanne gaan ook nie net in die hotelle tuis nie, hulle gaan ook rondbeweeg, hulle gaan goed soos ons wynkelders en restaurante besoek.

“Só word daar in die stad se ekonomie ingeploeg en dit is vir ons van kardinale belang. Die Blitsbokke moet weet die Kaapstad-metroraad en provinsie is bankvas agter hulle,” sê Plato.

Vanjaar is die vierde jaar wat die toernooi in Kaapstad aangebied word. Die Blitsbokke was die eerste jaar, in 2015 die kampioene, maar kon sedertdien nog nie weer die pyp rook nie.

Winde sê hulle het destyds baklei om Kaapstad die gasheer vir die Suid-Afrikaanse skof van die Wêreldreeks te maak.

“Dit is ongelooflik vir ons en skop eintlik met dié toernooi ons vakansieseisoen af. Ons het elke dag 55 000 mense in ons stadion, maar van Stellenbosch tot in die stad vang mense gees vir die toernooi.”

Volgens Powell is daar nie ’n beter plek as Kaapstad om te vergoed vir verlede week se gesukkel in Dubai nie.

“Ons kry net een keer per jaar die geleentheid om voor ons tuisskare te speel en ons is opgewonde om te wys waartoe ons in staat is.”

* Daar is enkele kaartjies beskikbaar vir Saterdag se aksie, terwyl Sondag s’n reeds uitverkoop is. Saterdag se eerste wedstryd begin om 10:15. Die Blitsbokke kom op die eerste dag teen Samoa (12:27), Zimbabwe (15:48) en Nieu-Seeland (19:56) te staan.

Meer oor:  Sewes  |  Dan Plato  |  Blitsbokke  |  Kaapstad-Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.