Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Burger nie bitter ná Bulle se koue skouer

“Ek het dit hard gevat en dit was glad nie lekker nie.”

Dít is hoe die gewese Blou Bul-kaptein Burger Odendaal vandeesweek gereageer het op die koue skouer wat hy van die Pretorianers gekry het toe hy oorbodig by dié unie verklaar is.

Burger Odendaal erken die laaste paar maande was ’n moeilike tyd vir hom. Foto: Gallo Images

“Ek is nou net baie verlig dat my skuif na die Leeus toe afgehandel is en dat ek die onsekerhede wat die laaste ruk deel van my lewe was, kan afskud en nou vorentoe kyk en aanbeweeg.”

Ja, ons leef in snaakse tye, erken hy.

“Dit was vir my baie erg om daaraan te moes dink dat ek dalk my kontrak vir nog twee jaar by die Bulle sou moes voltooi in die wete dat hulle my nie wil hê nie en ek nie meer vir hulle oorweeg sou word nie. Ek wou graag by die Bulle bly, maar hulle wou my nie meer hê nie,” sê Odendaal.

“Dit is lekker om nou weer deel van ’n nuwe struktuur by die Leeus te wees. Ek moet eerlik wees en erken die laaste ruk het ek dit nie meer juis by die Bulle geniet nie.”

Dié sterk 27-jarige senter en leiersfiguur in Blou Bul-geledere sê hy is dankbaar dat daar nie doekies omgedraai is met hom nie.

Wat met my gebeur het, gaan ek nou gebruik om beter te doen, maar dit gaan nie my allesoorheersende motivering wees om vir die Bulle te wil wys wat nou eintlik in my steek nie.

“Ek het wel nog onlangs ’n nuwe kontrak vir twee jaar met hulle gesluit, maar met die verandering in afrigter (Jake White wat Pote Human vervang het) is daar vir my gesê ek is nou nie meer deel van hul planne nie. Dit het as ’n skok gekom, maar ek koester geen wrok teen die Bulle nie,” sê hy.

“My rugbyloopbaan ná skool was nog net by die Bulle en dit is waar my lojaliteit gelê het. Wat met my gebeur het, gaan ek nou gebruik om beter te doen, maar dit gaan nie my allesoorheersende motivering wees om vir die Bulle te wil wys wat nou eintlik in my steek nie. Nee, glad nie.”

Odendaal sê sy hoofdoel is om nou net ná hierdie onsekere en moeilike tyd sy rugby te geniet.

“Die Leeus het ’n jong groep en ek voel ons dink almal dieselfde en wil nou net seker maak Leeu-rugby floreer. Ek wil daarop konsentreer om my aan die spelers en afrigters by die Leeus te bewys.”

Hy erken sy motivering was soms maar laag in hierdie inperkingstyd met die Covid-19-pandemie.

Willem Alberts het juis net nou die dag geskerts en gesê ons moet so ’n Monnas-groep stig hier by die Leeus.

“Dit was nie maklik om aan die gang te bly en te oefen soos wat jy moes nie. Gelukkig kon ek gedurende fase 5 van die inperking tyd op die familieplaas (in die Edenburg-distrik waar sy ma grootgeword het) deurbring. Dit was heerlik om daar in die oop ruimtes te kon oefen en jou kop skoon te kry. Dit was toe weer aaklig om te moes terugkom stad toe,” erken hy.

Hy is een van ’n groot groep oud-Monnas (Hoërskool Monument in Krugersdorp) wat deel van die Leeus se opset uitmaak.

“Dit laat jou op jou gemak voel by ’n nuwe unie om soveel spanmaats te hê met wie jy daardie raakpunt het. Willem Alberts het juis net nou die dag geskerts en gesê ons moet so ’n Monnas-groep stig hier by die Leeus,” sê Odendaal, wat in sy matriekjaar in 2011 die hoofseun van Monnas was.

Hy het ook toe vir die Leeus se Cravenweekspan uitgedraf en Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die unie, sê juis dit is vir hom belangrik om van plaaslike produkte gebruik te maak.

Vir die Leeus is dit beslis ’n geval van plaaslik is plesierig.

Meer oor:  Burger Odendaal  |  Leeus  |  Monnas  |  Superrugby  |  Hoërskool Monument  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.