Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Calder wil Stormers só help dink, sien

Sy sou veel eerder aan die “groen kant” van verlede jaar se Wêreldbekerrugby-eindstryd wou wees om haar derde goue medalje te kon wen, maar dr. Sherylle Calder, internasionaal bekende visuele vaardigheidsafrigter, het vrede gemaak daarmee dat sy as lid van Eddie Jones se Engelse bestuurspan in Japan aan die verloorkant was.

Dr. Sherylle Calder in 2007 saam met Eddie Jones toe hulle as konsultante die Bokke bygestaan het.

In 2003 het Calder onder Clive Woodward haar eerste Wêreldbeker-goue gewen toe Engeland Australië in die eindstryd verslaan het. Haar tweede was saam met die Bokke toe Jake White se span in 2007 die toernooi gewen het.

Ná Engeland se groot Wêreldbeker-hartseer is sy egter wêreldwyd bedrywig om sportsterre te help voorberei, met die Stormers se rugbyspelers wat ook by haar “aanlyn klasloop”.

Calder, wat die EyeGym-program besit, is tans besig om die Stormers, en veral hul beseerde spelers wat aan die herstel is, met haar aanlyn visuele oefensessies te help.

Daar is ook ander internasionale sportsterre en plaaslikes wat van EyeGym in die tyd van inperking gebruik maak om veral hul hand-oog-koördinasie te verbeter.

Volgens Calder is die Stormers tans haar proefkonyne om te sien waar sy die EyeGym-program kan verbeter.

“Elke speler het sy eie uitgewerkte program, wat beteken dat ons hulle kan dophou wanneer hulle oefen, wat hulle oefen en waar ons verbeteringe kan aanbring,” het Calder gesê.

“Rugby-spesifieke oefeninge sluit in hoe om ruimte te identifiseer, hul koördinasie, hul reaksie, vinnige besluitneming onder druk, die oordeel van aangee, hoe hulle die bal vang, hul skoppe, hul tydsberekening wanneer dit kom by duikslae, beweging en lopies. Al daardie vaardighede wat so moeilik is om op jou eie te doen, kan hulle op die program doen.”

Hopelik sien ons binnekort opwindende vaardighede op die veld wat ons nog nie voorheen gesien het nie.
Sherylle Calder

Die Stormers- en Springbok-kaptein, Siya Kolisi, is een van die rugbyspelers wat tans EyeGym as deel van sy daaglikse oefenprogram inspan.

Die doel van EyeGym is om kompetisie-toestande te simuleer en die deelnemer besluite te laat neem en dit uit te voer, soortgelyk aan wat hulle op die veld sou doen.

“Jy neem duisende besluite in dié oefensessies en dit is wat op die veld ook gebeur. Jy moet die inligting sien, dit prosesseer, ’n besluit neem en dan daarop reageer. Hulle oefen op ’n vlak waarskynlik hoër as wat op die veld geld.

Die Engelse stut Mako Vunipola oefen sy hand-en-oog-koördinasie saam met Calder (regs) en haar vennoot, dr. Christi Botha. Foto: Getty

“Ons het die Stormers se program verander om soort van die oog en brein ‘anders’ te laat dink. Ons weet as jy dit doen, sal jy mense dinge laat doen wat hulle nog nie voorheen gedoen het nie. Dit maak nuwe geleenthede oop en nuwe maniere om bewegings uit te voer.

“Hopelik sien ons binnekort opwindende vaardighede op die veld wat ons nog nie voorheen gesien het nie.”

Omdat Calder met so baie internasionale spanne en atlete werk, moes sy lankal haar emosies en lojaliteit teenoor Suid-Afrika en sy sportmanne opsy skuif.

Sportsterre wat Calder al gehelp het, sluit in die Engelse veelsydige voorspeler Maro Itoje en die F1-renjaer Valtteri Bottas.

Sy was ook by die All Blacks, die Australiese toetskrieketspan en die Japanse rugbyklub Suntory Sungoliath betrokke.

Oor verlede jaar se Wêreldbekertoernooi sê sy dat sy eerder die Bokke sou wou help. “Natuurlik sou ek my land wou help, dis altyd beter om vir jou eie land te werk.

“Ek moes my kop regkry daaroor. In 2003 (toe sy onder Woodward gewerk het) het Engeland teen die Springbokke gespeel in die derde wedstryd.

“Ek het toe gesit en tob oor wat ek doen (deur in die Engelse kamp te wees). Ek kan tog nie hier sit en hoop die spelers wat ek probeer verbeter, verloor teen my land nie.

“Dis tog lynreg teen die wette van die natuur. Ek het toe deeglik besef die span met wie ek werk, is die span wat ek wil sien wen. Maar die uiteindelike doel is om vir jou land te werk.”

Meer oor:  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.