Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cane lei All Blacks ná besering
Sam Cane sal leiding aan die All Blacks gee in hul Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Buenos Aires. Foto: Getty Images

Nege maande nadat Sam Cane ’n werwel in sy nek gekraak en sy rugbyloopbaan in die weegskaal was, gaan hy die All Blacks op die veld lei.

Dié flank, wat in Oktober op Loftus Versfeld dié ernstige besering teen die Springbokke opgedoen het, is as Nieu-Seeland se kaptein aangewys vir aanstaande Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Buenos Aires.

Kieran Read, die All Blacks se gereelde kaptein, en Sam Whitelock, sy adjudant, gaan albei in Nieu-Seeland agterbly om vir die toets teen die Bokke op 27 Julie in Wellington voor te berei.

Dié duo het die Crusaders verlede week tot ’n 10de Superrugby-titel help voer.

Die toetsgroentjie Sevu Reece (vleuel), asook Braydon Ennor (senter/vleuel) en George Bridge (vleuel), wat in 2018 hul toetsdebuut teen Japan gemaak het, is die enigste Crusaders in die All Black-groep vir die toets teen die Pumas.

Die 27-jarige Cane, wat in die pylvak van die Superreeks sy terugkeer tot die rugbyveld gemaak het, sal die All Blacks vir die derde keer in sy loopbaan aanvoer. Hy het hulle ook al teen Namibië (in 2015 se Wêreldbeker-toernooi) en Italië (2016) gelei.

Die beseringsgeteisterde senter Sonny Bill Williams sal wel saam met die All Blacks na Suid-Amerika reis, maar volgens Steve Hansen, die Kiwi’s se afrigter, sal hy dié 33-jarige ster slegs vir die toets kies as die nood druk. Williams het nog las van ’n seer dyspier.

Sonny Bill Williams is woelig in die gimnasium, maar het nog las van ’n seer dyspier. Hy toer saam na Argentinië, maar die kans is skraal dat hy sal speel. Foto: Getty Images

Anton Lienert-Brown en Ngani Laumape sal waarskynlik die All Blacks se senterpaar teen die Argentyne wees, met Ennor die plaasvervanger op die bank.

Hansen verwag dat die Pumas met baie selfvertroue op die veld sal draf nadat die kern van hul span, in die gedaante van die Jaguares, die eindstryd van die Superreeks gehaal het.

“Die ideale manier vir hulle om die teleurstelling van die nederlaag in die Superrugby-eindstryd te verwerk, sal wees om ons te klop,” sê Hansen.

Die All Blacks het in vorige jare soms die geneigdheid gehad om stadig uit die wegspringblokke te kom aan die begin van ’n toetsseisoen, maar met net vyf toetse voor die Wêreldbeker-toernooi begin, is Hansen gretig dat hulle dié keer van meet af aan op dreef is.

“Ons is gewoonlik ’n bietjie verroes in die eerste twee of drie wedstryde van die seisoen. Maar ons is opgewonde oor die span wat in dié toets gaan speel, want die Crusaders se groot kanonne gaan almal tuis bly. Ons gee ander spelers dus ’n kans om hulself te bewys.” – Reuters

* Skakel na twiet kort ná Cane nek gebreek het: 

Meer oor:  All  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Blacks  |  Sam Cane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.