Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kaptein loof ‘spesiale’ Caleb Clarke
AUCKLAND, NEW ZEALAND - OCTOBER 18: Caleb Clarke o
Daar trek hy! Die jong Caleb Clarke bars deur ’n paar Wallaby-verdedigers in Sondag se Bledisloe-krameting op Eden Park in Auckland. Die vleuel was een van die All Blacks se groot uitblinkers in die oorwinning van 27-7.

Die All Black-vleuel Caleb Clarke se manjifieke vertoning in sy eerste opdraftoets was deurslaggewend in die span se Bledisloe-toetsrugby-oorwinning oor die Wallabies Sondag (SA tyd) in Auckland.

Nieu-Seeland het die kragmeting met 27-7 gewen nadat hy met die rustyd met 10-7 voor was. Die twee spanne het verlede naweek in die eerste Bledisloe-kragmeting met 16-16 gelykop gespeel.

Die oorwinning beteken die tuisspan het een hand op die beker, wat sedert 2003 in sy besit is. Die oorblywende twee toetse, deel van die aangepaste Rugbykampioenskapsreeks, word in Australië beslis.

Die druk op die Kiwi’s se nuwe breier, Ian Foster, sou sonder twyfel ’n bietjie gelig het ná Sondag se vertoning. Sy span het voor ’n volgepakte stadion, waar 46 049 toeskouers saamgetrek het nadat ’n verbod op groot sportsaamtrekke tydelik deur die Nieu-Seelandse regering gelig is, gewys waartoe hy werklik in staat is.

Agterna was daar veral groot lof vir die jong Clarke, seun van die All Black-legende Eroni Clarke, se debuut-vertoning in die beginspan.

Hy het al die talent en ’n ou kop op sy jong skouers. Hy het niemand wat hul vertroue in hom gestel het, in die steek gelaat nie.
Sam Cane

“Hy is ’n spesiale speler en mens,” het die All Black-kaptein, Sam Cane, Sondag aan verslaggewers oor die 21-jarige gesê. “Hy het al die talent en ’n ou kop op sy jong skouers. Hy het niemand wat hul vertroue in hom gestel het, in die steek gelaat nie.”

Clarke het meermale met sterk lopies die Wallabies oorhoops gehad en vier, vyf keer eenvoudig bo-oor of deur die verdedigers gestoomroller.

Dis was grootliks te danke aan vinnige voorvoet-besit wat gekom het ná ’n veel beter vertoning deur die tuisspan se voorspelers, gemeet aan verlede naweek se lustelose getjommel teen die Aussies.

Die All Blacks maak hulself natuurlik bykans nooit skuldig aan twee ondergemiddelde vertonings op ’n streep nie.

Die Wallabies was alte bewus hiervan, nadat die span se oorwinning van 47-26 verlede jaar in Perth die naweek daarna opgevolg is met ’n loesing van 0-36 in Auckland.

“Hulle was aansienlik beter die naweek,” het die span se kaptein, Michael Hooper, Sondag erken.

“Hulle was in alle aspekte beter as ons vandag. Maar die twee gebiede waar hulle ons die meeste seergemaak het, was met omkeerbesit en hoe hulle ons foute uitgebuit het.”

Dit was aanvanklik die Wallabies wat die All Blacks onder geweldige druk geplaas het, maar toe die tuisspan eers sy voete begin vind, het hy die pas van die spel versnel en so die verdedigers begin toets danksy kraglopies deur Clarke op linkervleuel en die heelagter Beauden Barrett.

AUCKLAND, NEW ZEALAND - OCTOBER 18: Caleb Clarke o
Die All Black-skrumskakel Aaron Smith bars oor vir sy drie teen die Wallabies. (Foto: Getty Images)

Die All Black-skakelpaar, Aaron Smith en Richie Mo’unga, kon ook spel dikteer en goed afwissel danksy die grondslag wat voorlangs gelê is.

Dit was juis Smith wat eerste die gekalkte lyn oorgesteek het nadat hy van ’n aanvallende skrum oorgeduik het.

Die Wallabies was met die rustyd egter nog sterk in die prentjie ná die makro-vleuel Marika Koroibete se drie, maar ná die draaislag was die swart aanslag een te veel vir die besoekers.

Clarke was in die tweede helfte die katalisator vir twee drieë binne die bestek van drie minute. Hy het eers ’n bres geslaan om vir Barrett lyn toe te stuur en kort hierna soos ’n verwoede bul by ’n rodeo die verdedigers afgeskud voordat Ardie Savea gaan druk het om die telling 20-7 te maak.

“Ons het nou die dwarslat tot hier opgeskuif. Dis die basispunt. Nooit weer benede dié standaard nie, net hoër en beter,” het Foster ná sy span se oorwinning gesê.

Ons het nou die dwarslat tot hier opgeskuif. Dis die basispunt. Nooit weer benede dié standaard nie, net hoër en beter.
Ian Foster

“Dit is die beste Australiese span wat ek in ’n lang tyd gesien speel het, so ons is behoorlik getoets. Hy gee eenvoudig alles en hou aan veg tot die einde. Ons is gedwing om ons spelpeil te lig. Enigsins swakker as dit en ons loop die gevaar om te verloor,” het Foster bygevoeg. – Reuters

Meer oor:  Aaron Smith  |  Caleb Clarke  |  Sam Cane  |  Nieu-Seeland  |  Australie  |  Auckland  |  Vleuel  |  Bledisloebsker  |  All Blacks  |  Wallabies  |  Toets  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.