
Adriaan Carelse wil net rugby speel en breek nie sy kop oor wat hy nie kan beheer nie. Foto: Gallo Images
“Ek herinner myself elke dag daaraan dat God my tot hier gebring het vir ’n rede en dat Hy my nie sover gebring het om te misluk nie.”
So sê die heelagter Adriaan Carelse, wat hoop om vanjaar speelkans vir die Vrystaat-Cheetahs in die Curriebeker-reeks te kry, al staan hy in ’n lang ry vir die nr. 15-trui.
“Ons is baie heelagters by die Cheetahs en dit gaan moeilik wees om die 23-tal te haal. Ons het goeie spelers in my posisie – 15 en 10 – maar ek bly positief en glo dat ek die span kan haal,” sê Carelse, wat voordat die Pro14-reeks opgeskort is, op die punt was om sy buiging in dié internasionale kompetisie te maak.
“Ek sê net vir myself: Beheer wat jy kan en moenie jou kop breek oor ander goed nie. Dit hang van die afrigter (Hawies Fourie) af. My werk is om alles te doen op die veld, in die gimnasium, reg te eet en seker te maak my peil is die beste wat dit kan wees, sodat wanneer ek gekies word, ek op my heel beste is.”
Hy sal vanjaar in die Curriebeker-reeks, wat lyk of dit uiteindelik in September kan begin, met hardebaarde op heelagter meeding. Onder die spelers wat voor hom in die ry staan, is Clayton Blommetjies, Rhyno Smith en dan ook Malcolm Jaer. Dan is daar nog ook Tapiwa Mafura, wie se kontrak net soos syne aan die einde van Oktober verstryk.
Blommetjies is waarskynlik die man in die saal en dit gaan nie maklik wees om hom daaruit te lig nie.
“Ek werk hard en wag vir my kans. Blomme, Rhyno en Mella is sekerlik in die binnebaan om die laaste vesting te beman en elke speler is spesiaal en bring iets anders, maar ek herinner myself elke dag daaraan dat God my tot hier gebring het vir ’n rede en dat Hy my nie sover gebring het om te misluk nie,” sê die 25-jarige boorling van Somerset-Wes.
Blomme, Rhyno en Mella is sekerlik in die binnebaan om die laaste vesting te beman en elke speler is spesiaal en bring iets anders.
Adriaan Carelse
Hy sê hy staan elke dag op en wil net ’n beter speler word en dít is waarop hy fokus. Hy sal daarom graag wil wys wat in hom steek wanneer die Curriebeker-reeks begin.
“Dis nie lekker om nie speelkans te kry as jy hard oefen nie, maar as die afrigter my kies, dan kies hy my en as hy nie, dan is dit nou so. Hoe dit ook al sy, ek gee altyd my beste en wanneer ook al ek gekies word, sal ek op my beste wees.”
Carelse het verlede jaar vir die Vrystaat XV uitgeblink in die SuperSport-uitdaagreeks en het in 2018 speelkans in die Curriebeker-reeks gekry, so hy sal nie ’n groentjie in dié kompetisie wees nie.
“Ek het darem al ’n paar wedstryde vir die Vrystaat gespeel en sal graag weer daardie trui oor my kop wil trek. Eintlik gaan dit daaroor dat ek net rugby wil speel, dis al. Dan ook om die talent en gawe uit te leef wat God vir my gegee het.”