SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Carelse wil nie ‘nuwe Blommetjies’ wees
Adriaan Carelse, gewese heelagter van die Boland-Kavaliers, is deesdae ’n volbloed-Cheetah.Foto: Mlungisi Louw

Hy is as heelagter by die Cheetahs gekontrakteer, maar Adriaan Carelse wil nie as die nuwe Clayton Blommetjies gesien word nie – hy wil vir homself ’n naam in die Rosestad maak.

Die 23-jarige Carelse, wat die laaste vier seisoene in 50 wedstryde vir die Boland-Kavaliers uitgedraf het, het aanvanklik losskakel gespeel en dit was toe hy vir die Westelike Provinsie se o.19-span gespeel het, dat dié se breier, Nazeem Adams, hom na heelagter geskuif het.

“My skuif na die Cheetahs is eenvoudig: Dit is ’n beter geleentheid vir my loopbaan. Ek sien daarna uit om rugby op ’n hoër vlak te speel en dit is hoekom ek opgewonde oor my skuif Bloemfontein toe is,” sê Carelse, wat die eerste keer in sy loopbaan meer as ’n driekwartier weg van sy ouerhuis af sal wees.

Ek wou nog altyd vir die Cheetahs gespeel het en het nooit gedink dit sou gebeur nie.
Adriaan Carelse

“Ek wou nog altyd vir die Cheetahs gespeel het en het nooit gedink dit sou gebeur nie.”

Carelse is die jongste van drie kinders en het aan die Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes matrikuleer. Hy kom van die klein dorpie Sir Lowry’s Pass, aan die voet van die pas met dieselfde naam.

Hy sê hy het nooit werklik enige rugbyhelde gehad nie, maar omdat hy op ’n jong ouderdom losskakel gespeel het, het hy altyd die spel van Australië se Quade Cooper en Nieu-Seeland se Dan Carter dopgehou.

Hy erken dat hy in Blommetjies groot skoene het om vol te staan sou hy die laaste vesting beman, maar dat hy gereed is vir die uitdaging.

Die Cheetahs gaan die verlies van Clayton Blommetjies waarskynlik die hardste voel. Foto: Getty Images

“Clayton is ’n goeie speler en hy was lank deel van die sukses van die Cheetahs, veral met sy goeie aanvalswerk. Maar ek is Adriaan Carelse – ek speel my eie rugby. Ek wil nie hê mense moet na my as die ‘nuwe Clayton Blommetjies’ verwys nie,” sê Carelse.

Hy sê voorts dat hy alles in sy vermoë sal doen om ’n sukses van sy loopbaan by die Cheetahs te maak, want dit het baie lank geneem vir hom om die skuif te maak.

“Dit is die eerste keer dat ek weg van die huis af is en dit was vir my emosioneel om te trek. Ek het my pa aan die begin van die jaar verloor en ek besef nou dit was dalk God se plan met my om my loopbaan by die Boland te begin en vir so lank daar te bly, sodat ek tyd met my pa kon deurbring,” sê Carelse.

Meer oor:  Clayton Blommetjies  |  Bloemfontein  |  Pro14  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.