Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Carl Wegner oorgehaal ná fratsbesering
Die slot Carl Wegner sweet in die gimasium vir ’n plek in die Cheetah-span. Foto: Gallo Images

Bloemfontein. – Sy bolyf en onderlyf is in teenoorgestelde rigtings gedwing wat sy heup laat uithaak het.

Nadat hy van dié fratsbesering herstel het is die slot Carl Wegner (24) nou op soek na speelkans in die Cheetahs se span vir hul eerste Superrugby-wedstryd teen die Jaguares hier op 26 Februarie.

Op 13 Junie verlede jaar het dié besering in die 26ste minuut ’n einde aan Wegner se seisoen gemaak. Die Cheetahs het die Bulle met 42-29 geklop op Loftus Versfeld in hul laaste Superrugby-stryd, maar het ’n duur prys vir die sege met Wegner se besering betaal.

Hy het ’n Bul-speler van voor af in sy spore probeer stuit en in die proses het dié speler se spanmaats bygekom en hom teruggedruk. Terselfdertyd het Wegner se spanmaats hom ondersteun en sy liggaam is toe in teenoorgestelde rigtings gedruk wat die besering veroorsaak het.

Dié hemelbesem (2.01 m) wat tussen 2012 en 2014 tien wedstryde vir Stade Français in Frankryk gespeel het, het intussen volkome herstel nadat hy verlede jaar se Curriebeker-reeks toe misgeloop het.

“My heup het ten volle herstel en ek is nou in die finale fase van my rehabilitasie. Dit behels dat ek saam met die span oefen en ek is op dreef. Verder is daar geen komplikasies nie,” het Wegner gesê.

Hy het geen spesiale oefeninge gedoen het nie. Hy het gehou by wat die Cheetahs se spandokter (Louis Holtzhausen) en die fisioterapeut (JP du Toit) voorgeskryf het.

“Nee wat, niks spesiaals nie, net doodnormale oefeninge wat die dokter en die fisio my laat doen het. Ek kan eerlik sê ek verduur geen pyn of ongemak.”

Hy sê die besering spook nie meer by hom nie, maar dis een wat hy niemand toewens.

Die Cheetahs se voorspeler-afrigter Corniel van Zyl, ook slot op sy dag, is tevrede met die vordering wat Wegner sedert Desember gemaak het.

“Carl is een van ’n klomp slotte wat ons in die groep het en die mededinging is goed op die oomblik,” het Van Zyl gesê.

Ander slotte in die groep is die Springbok Lood de Jager, Francois Uys, Justin Basson, Reniel Hugo, Armandt Koster en Boela Serfontein. Die Jong Bokkie-slot, Dennis Visser, is aan die Shimlas vrygestel.

Meer oor:  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.