Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nizaam Carr gaan terug na Engeland

Die Springbok-losvoorspeler Nizaam Carr is op pad terug na Engeland, maar daar is nog nie bevestiging oor Gio Aplon se toekoms nie.

Nizaam Carr keer terug na Engeland om vir Wasps te speel. Foto: Gallo Images

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het bevestig Carr sal einde Julie by Loftus Versfeld groet om weer by sy voormalige span, Wasps, aan te sluit.

Edgar Rathbone, die BBM se uitvoerende hoof, sê Carr het versoek om vroeër van sy Bulle-kontrak vrygestel te word, want hy en sy gesin wil graag na Engeland terugkeer.

Met Marco van Staden (Leicester Tigers) wat ook nie meer vir die Bulle beskikbaar is nie, is dié span nou groot ervaring in die lostrio kwyt.

Carr (30), wat van 2018 tot 2020 een van Wasps se staatmakers in die agttal was, het die Bulle vroeër vanjaar in die voorbereidingsreeks aangevoer.

“Ons sou hom graag wou behou het. Nizaam is ’n sterk leier en is waardevol op en van die veld af, maar ’n ou se gesin kom eerste en ons gaan beslis nie in sy pad staan nie.

“Dit is ’n harde hou vir ons, maar dit is ook tyd dat jong spelers soos Muller Uys en WJ Steenkamp hulle in die span begin vestig,” sê Rathbone.

Daar is nog nie nuus oor Aplon se kniebesering nie, maar daar word verwag dat hy weer binnekort geopereer gaan word.

Rathbone het ook bevestig dat hulle met die twee veelsydige Springbok-agterspelers Lionel Mapoe en Ruan Combrinck onderhandel in die hoop om meer ervaring agterlangs te kry.

As albei Bulle word, sal dit ’n Leeus-reünie by Loftus wees met Harold Vorster, wat Vrydagaand sy buiging vir die Ligbloues teen die Pumas gemaak het.

Rapport berig Combrinck (31), wat in 2016 in sewe toetse gespeel het, het sy rugbystewels weggepak en boer sedert verlede jaar.

Rathbone sê ook die Bok Johan Goosen word reeds oorweeg vir Woensdag se Curriebeker-wedstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein, al begin sy Bulle-kontrak eers amptelik Donderdag.

Die Springbok-skrumskakel Ivan van Zyl is ook nog beskikbaar om vir oulaas vir die Bulle uit te draf voordat sy kontrak met Saracens later vandeesweek begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.