Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cash: Jol en hol nie altyd so maklik
Die Leeus het verlede week vir die eerste keer sedert die hervatting van rugby nie ’n drie gaan druk nie, nadat hulle deur die Bulle se verdedigingslinie aan bande gelê is. Foto: Gallo Images

Dis ook maar goed daar was nie verlede Woensdag kameras in sy afrigtershokkie by Loftus Versfeld nie, sê die Leeus-afrigter, Ivan van Rooyen.

“Ek probeer altyd rustig bly, maar vir die eerste keer het die ander ouens verlede week vir my gesê hul ore het gebrand oor wat ek alles kwytgeraak het,” sê Van Rooyen Woensdag met ’n stem dik van die selfspot.

“Die frustrasievlakke was maar hoog – nie soveel oor die uitslag nie, maar omdat ons nooit aan die gang kon kom nie.”

Die Leeus het verlede week hul eerste nederlaag van die Curriebeker-reeks gely teen die Bulle – die einste span (en op die einste veld) wat hulle aanstaande Saterdag in die halfeindronde pak. Die wedstryd, op ’n bewolkte Hoëveld-middag, was geen goeie advertensie vir rugby nie, met ’n rits (morsige) skrums en min sprake van hardlooprugby wat menige kykers se frustrasiemeters ook die rooi ingedruk het.

Enigiemand wat rugbydenkers soos Phil Pretorius, Nick Mallett en André Markgraaff se mening wil weerlê dat hierdie ’n Curriebeker sonder inspirasie is, sal ’n ander voorbeeld as verlede week se Loftus-tweestryd moet vind. Maar Van Rooyen sê daar is ’n goeie rede waarom skrums en skoppe toenemend meer gereeld die hoeksteen van wedstrydplanne is.

“Die werklikheid – in wêreldrugby, nie net hier nie – is dat oorheersing in die vaste fasette en ’n fokus op skoptaktiek toeneem, omdat verdedigingstrukture soveel verander het,” sê Van Rooyen.

Verdediging gaan nie meer daaroor om teenstanders in hul spore te stuit nie, maar om druk op die hele aanvallende stelsel te plaas.

“Ek kan verstaan dat mense sê dis frustrerend, ons voel ook so. Ons wil baie meer bal-in-die-hand-rugby speel en baie meer hardloop. Maar as ’n span jou op die verdediging onder druk sit, kan ’n enkele oordeelsfout jou drie, vyf of sewe punte kos. Vir ons wat wil hardloop met die bal en ’n aanvallende plan nastreef, is dit belangrik om ambisieus te bly en nie in ons doppe te kruip nie. Die uitdaging is om ’n balans te vind tussen die druk wat jy op die aanval op jou teenstanders plaas, die druk op die verdediging en die druk met skopwerk.”

Op hul beste – en veral in die Curriebeker-wedstryde teen die Haaie en Cheetahs – het die Leeus hierdie seisoen daardie balans gevind, en nie net van rolmale nie, maar ook uit gebroke spel die doellyn gevind.

Van Rooyen sê dis ’n riem onder die hart dat die Leeus steeds voor in die kompetisie is wat aanvallende statistieke betref.

“Ons het nie die meeste drieë in die kompetisie gedruk nie, maar wie weet wat kon gebeur het as ons nie daardie 30 minute teen die Griekwas (weens weerlig) verloor het nie. Wat dinge betref soos meters met die bal in die hand en hoe gereeld ons die bal gedra het, het ons goeie syfers. Ons wil ’n aanvallende span wees en ons werk hard daaraan.”

Van Rooyen sê die week waarmee die halfeindronde uitgestel is (van komende Saterdag tot die 23ste) is welkom aangesien daar ruimte is om die spelers ’n paar afdae te gee.

“Maar dit gaan albei kante toe,” sê hy. “Jy moet die balans vind tussen regmaak wat verkeerd is en die spelers fisiek en sielkundig skerp hou.”

Meer oor:  Leeus  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Ivan Van Rooyen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.