Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Catrakilis keer dalk terug Kings toe

Daar is ’n kans dat een van die Southern Kings se pioniers van 2013, die losskakel Demetri Catrakilis, volgende seisoen weer vir die Oos-Kapenaars kan uitdraf.

Demetri Catrakilis in aksie vir Harlequins in Engeland. Foto: Getty Images

Gerugte uit Engeland, waar Catrakilis vir die klub Harlequins speel, lui dat die Kings met hom onderhandel.

Dit volg op ander gerugte die naweek dat die All Black-vleuel Julian Savea en die voormalige Springbok-flank Jacques Potgieter ook in die Kings se visier is.

Savea en Potgieter speel albei vir die Franse klub Toulon, met wie die Kings verlede week ’n samewerkings-ooreenkoms gesluit het.

Robbi Kempson, die Kings se hoëprestasiebestuurder, sê in hierdie stadium is die gerugte oor die groot name wat glo op pad na die Kings is, presies dít – gerugte.

“Ek kan wel bevestig dat Howard Mnisi Maandag vir ’n mediese ondersoek by ons aanmeld,” sê Kempson.

Howard Mnisi moet eers ’n mediese toets slaag voordat hy dalk deur die Kings gekontrakteer kan word. Foto: Gallo Images

Mnisi is nie meer deel van die Leeus se gekontrakteerde groep nie. Hy het die afgelope tyd bra min rugby gespeel nadat hy ’n jaar of wat gelede met ’n ernstige kniebesering gesukkel het.

“Ek kan ook bevestig dat Courtney Minnaar, wat al vir die Haaie gespeel het, nou vir die Kings beskikbaar is,” sê Kempson.

Minnaar kan heelagter of losskakel speel en het nes Mnisi ook voorheen vir die Madibaz uitgedraf.

Die 22-jarige Minnaar, wat as junior vir Grens gespeel het, het in 2016 ook vir die Oostelike Provinsie-Kings gespeel.

Dis dus in hierdie stadium onseker of spelers soos Savea, Potgieter en Catrakilis op die Kings se wenslysie is en of daar regtig ’n goeie kans is dat hulle Oos-Kaap toe kan kom.

Catrakilis was in 2013, toe die Kings hul debuut in Superrugby gemaak het, een van die Kings se waardevolste spelers. Ná daardie seisoen is hy deur die Stormers opgeraap en hy was ook vir dié span gereeld ’n uitblinker voordat hy in 2015 na Montpellier in Frankryk koers gekies het. Twee jaar later het hy by die Engelse klub Harlequins aangesluit, waar hy ’n tyd langs die kantlyn was ná ’n ernstige keelbesering.

Catrakilis was onlangs weer in die nuus nadat ondersteuners van Worcester laserliggies in sy oë geskyn het terwyl hy met stelskoppe pale toe besig was.

Meer oor:  Pro14  |  Demetri Catrakilis  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.