Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Demetri Catrakilis meld in die Baai aan

Die losskakel Demetri Catrakilis het gister by die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth, waar Luke Watson ’n paar jaar gelede een van sy tande met sy elmboog uitstamp het, vir sy eerste oefening in jare saam met die Southern Kings aangemeld.

Demetri Catrakilis word Woensdag in die Baai deur die Kings se spanbestuurder, Zingi Hela, welkom geheet. Foto: Southern Kings

Ondersteuners van die Kings sal verlig wees dat die 30-jarige Catrakilis, wat die afgelope paar jaar vir Harlequins in Engeland gespeel het, inderdaad terug is in die Baai.

Catrakilis het ’n paar weke gelede nog vanuit Engeland gesê hy het goeie herinneringe van sy tyd in 2013 saam met die Kings.

’n Minder goeie herinnering was toe hy in ’n oefening in Watson se getatoeëerde voorarm vasgehardloop en ’n tand verloor het.

Die hele span, en ’n paar rugbyskrywers, het toe op hul hande en knieë rondgekruip op soek na die tand.

Dis toe wel gevind voordat die tandemuis dit kon kry en daarmee wegskarrel.

Nog ’n voormalige King, die skrumskakel Kevin Luiters, het op sy beurt Maandag by die Oostelike Provinsie-Olifante begin oefen.

Luiters, wat in 2016 vir die Kings gespeel het, het tot Junie verlede jaar klubrugby in Roemenië gespeel.

Hy het in Mei vanjaar nog gesê hy is “huiwerig” om weer by beroepsrugby betrokke te raak.

Dit was ná hy geldelike probleme by die Kings én die Timisoara Saracens ervaar het.

Kevin Luiters toe hy in 2016 vir die Kings gespeel het. Foto: Gallo Images

“Die gogga het my weer gebyt en ek het Chumani Booi (OP-afrigter) gekontak en gevra of hy daarin sal belangstel as ek saam met die OP begin oefen,” sê Luiters.

“Ek werk voltyds, so dit pas by dat die OP laatmiddag oefen en Chumani het gesê ek moet ’n draai maak.”

Luiters sê hy vind nou eers weer op dreef kom en droom nog nie eens weer daarvan om vir die Kings te speel nie.

“Ek verwag ook nie om sommer net in die OP-span in te stap nie,” sê hy.

Richman Gora is tans die skrumskakel in die OP se beginspan met Sonwabo Majola op die plaasvervangersbank.

Die OP speel Saterdag in die Wolfson-stadion in Port Elizabeth in ’n wedstryd in die Curriebeker-reeks se Eerste Liga teen die Griffons.

Meer oor:  Demetri Catrakilis  |  Southern Kings  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.