Die debat oor die standaard van die Curriebeker-kompetisie word steeds in die aanloop tot Saterdag se halfeindstryd gevoer.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het vroeër dié week by monde van Rassie Erasmus, sy direkteur van rugby, gesê die land se voorste spelers is gedurende die seisoen (Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reeks) aan ongekende omstandighede blootgestel.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle, sê unieke omstandighede het die gehalte van die Curriebeker- en voorafgaande Superrugby Unlocked-reeks beïnvloed. Foto: Gallo Images
Erasmus het ook die spanne in die halfeindronde (Bulle, Leeus, Haaie en die Westelike Provinsie) gelukgewens met hul deursettingsvermoë in ’n “uitdagende seisoen”.
Dit kom nadat oudbreiers soos André Markgraaff en Phil Pretorius hul kommer oor die gehalte van die Curriebeker-kompetisie uitgespreek het. Dit is onder meer as ’n verleentheid vir Suid-Afrikaanse rugby en ’n onkykbare produk bestempel.
Ook Jake White, hoofafrigter van die Bulle, het sedertdien vir die spelers in die bres getree.
Hy het op die Bulle se No Holds Barred-program, waar hy vrae van ondersteuners op sosiale media beantwoord, gesê dit is ’n unieke kompetisie weens al die eksterne faktore.
“Benewens Covid-19, wat ’n groot invloed het, moes ons die seisoen ná ’n lang afwesigheid hervat en word daar in die middel van die somer gespeel. Daar was wedstryde wat weens donderstorms afgelas is. Dit is eenvoudig ’n heel ander kompetisie as waaraan ons gewoond is.”
Erasmus het daarop gewys dat oefentyd op die veld, wat gewoonlik in die omgewing van 280 tot 300 minute per week is, na ’n maksimum van 150 gedaal het weens Covid-19-protokol.
White gee toe die uiteindelike produk “is dalk nie wat ons almal wil sien nie”.
“Dit is interessant dat die bal vir 35 minute in spel was toe die spanne (Bulle en Leeus) aan die begin van verlede jaar in die Superreeks teen mekaar gespeel het. Nou is dit ewe skielik af na 26, 27 minute. Hoekom, dit is dan dieselfde spanne? Ek glo dit het te doen met die nuwe manier van voorbereiding en ander omstandighede, asook die skeidsregters en van die reëls wat subtiel verander het,” sê hy.
“Dit gesê, vir ons (die Bulle) is dit belangrik dat ons ’n tuishalfeindstryd het en ons moet nou probeer om die kompetisie te wen.”
White maak sy span Donderdag bekend.