Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
CB nie vanjaar vir Junior beskore

Die flank en kaptein van die Cheetahs, Junior Pokomela, sal glad nie vanjaar in die Curriebeker-reeks speel nie en kan tot drie maande op die kantlyn deurbring.

Die nuus dat hy ’n operasie moet ondergaan, beteken dat sewe spelers wat vir die Cheetahs begin het toe hulle die Bulle in die Superrugby Unlocked-reeks geklop het, nie in die spanne se herontmoeting die naweek te sien sal wees nie.

Die Vrystaat-Cheetahs, wat verlede week ’n loslootjie gehad het, pak die Blou Bulle in hul eerste Curriebeker-wedstryd Saterdag op Loftus Versfeld.

Pokomela (23) is op die nippertjie aan die Cheetahs se span vir sy laaste Unlocked-wedstryd teen Griekwas onttrek weens ’n polsgewrig-besering waarmee hy ’n hele ruk gesukkel het. Hy het ’n beskermende stut om sy regterpols gedra in die laaste paar wedstryde waarin hy gespeel het.

Junior Pokomela se Curriebeker-seisoen is verby nog voor dit vir dié losvoorspeler kon begin.Foto: Gallo Images

Die mediese span het bevestig dat hy “so gou as moontlik geopereer gaan word” en dat hy vandeesweek al onder die mes kan wees.

Die slot Carl Wegner sal die span steeds aanvoer tot en met Ruan Pienaar se verwagte terugkeer later vandeesmaand.

Benewens Pokomela het Charles Marais (nek), wat in die wenspan vroeër teen die Bulle was, ook intussen ’n besering opgedoen. Die skrumskakel Pienaar (knie) is vroeg beseer in die wedstryd teen die Bulle, wat die Cheetahs met 19-17 in Bloemfontein gewen het.

Vier spelers wat daardie dag in die opdrafspan was – die agtsteman Jasper Wiese, stut Luan de Bruin (albei Leicester Tigers), slot Walt Steenkamp (Bulle) en senter Benhard Janse van Rensburg (Green Rockets) – het sedertdien kontrakte met ander spanne gesluit.

Die losskakel Tian Schoeman het Maandag gesê hy glo hulle kan die Bulle selfs sonder dié spelers steeds klop.

Die Vrystaters se afrigter, Hawies Fourie, het vroeër gewaarsku dat spanne gesukkel het om aan die gang te kom ná loslootjies en dat hulle die perd onmiddellik moet opsaal wanneer hulle tot die speelveld terugkeer.

Die Cheetahs het vroeër weens ’n gekanselleerde Unlocked-wedstryd teen die Leeus, wat toe gevolg is deur loslootjie, ook momentum ingeboet.

“Loslootjies kan teen jou werk, soos ons ook gesien het met die Bulle se wedstryd teen die Pumas. Die Bulle het gesukkel ná hul loslootjie, net soos ons ná ons loslootjie.

Dit het altyd ’n bietjie van ’n invloed op die volgende wedstryd,” sê Fourie.

Die Leeus het ná hul gesukkel in die eerste helfte teen Griekwas die afgelope naweek ook aan ’n tekort aan wedstrydtyd toegeskryf. Die Gautengers was voor die stryd in Kimberley vir drie weke nie op die veld nie weens Covid-19-ontwrigting en ’n loslootjie.

Die Cheetahs sal Woensdag en Donderdag reeds om 08:00 begin oefen voordat hulle Vrydag per bus na Pretoria vertrek.

Die groep se Covid-19-toetse Maandag het nie enige positiewe uitslae opgelewer nie.

Meer oor:  Cheetahs  |  Junior Pokomela  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.