Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Chait kan hom vestig as Haaie se nr. 1’

Wanneer Jordan Chait Woensdag die Haaie se nr. 10-trui teen die Vrystaat-Cheetahs dra, is dit vir hom ’n geleentheid om te wys dat hy die Durbaniete se eerste keuse in dié posisie kan wees.

Jordan Chait gedurende ’n oefensessie van die Haaie vroeër vanjaar in Durban. Foto: Gallo Images

So sê Sean Everitt, afrigter van die KwaZulu-Natallers, oor dié losskakel se insluiting as een van drie veranderinge aan die beginspan wat net meer as ’n week gelede met Griekwas afgereken het.

Die Haaie pak die Cheetahs in die voorbereidingsreeks in Bloemfontein.

Chait (24), seun van Anton Chait, wat die Westelike Provinsie in sy speeldae as losskakel verteenwoordig het, vervang Manie Libbok.

Die voormalige Junior Bok Thaakir Abrahams neem die nr. 14-trui by Werner Kok oor.

Voorlangs is die enigste verandering John-Hubert Meyer, wat in die plek van Michael Kumbirai op vaskopstut sal sak.

“Jordan is ’n baie goeie veelsydige losskakel. Hy val regtig baie goed aan en hy is ook ’n goeie verdediger. Hy is ook goed met sy skopvoet,” sê Everitt.

“Jordan het deur die Varsitybeker gekom en het ongelukkig verlede jaar – met ons wat weens Covid-19 nie baie rugby gespeel het nie – nie die geleenthede gekry waarop hy gehoop het nie.

“Dit (die tyd sonder wedstryde) het hom egter die kans gegee om te ontwikkel. So nou is dit vir hom ’n wonderlike geleentheid om sy talente ten toon te stel en te wys dat hy nommer een by die Haaie kan wees.”

Jordan Chait in aksie vir Maties in ’n Varsitybeker-wedstryd teen die Universiteit van Wes-Kaapland in 2019 in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Chait is ’n oudskolier van Sacs in die Kaap en het Maties in die Varsitybeker-reeks verteenwoordig. Sy direkte teenstander Woensdag, Reinhardt Fortuin, was sy spanmaat toe die Stellenbossers die Varsitybeker in 2019 gewen het.

In daardie jaar se eindstryd, wat die Maties met 34-12 teen Tuks gewen het, was Chait die wenspan se losskakel, terwyl Fortuin die laaste vesting beman het.

Daar wag egter nog ’n ou bekende uit Chait se studentedae op hom in die Rosestad.

Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, was destyds die Maroen Masjien se afrigter. Hy sal dus goed bekend wees met Chait se sterk en swak punte.

Everitt het gedurende Maandag se aanlyn mediakonferensie weer onderstreep dat die voorbereidingsreeks gebruik word om die Durbaniete se diepte uit te brei. En dat hy baie tevrede is met hoe sake verloop.

“My boodskap aan ons spelers voor ons laaste wedstryd (teen Griekwas) was dat hulle moet gaan wys wat hul begrip van ons wedstrydplan is. Hulle het beslis dit gedoen,” sê Everitt.

“Hulle (die spelers) oefen die laaste tien dae baie goed, so ek is baie opgewonde om te sien hoe hulle Woensdag gaan vaar.”

Haaie: Aphelele Fassi, Thaakir Abrahams, Jeremy Ward (k), Murray Koster, Anthony Volmink, Jordan Chait, Grant Williams, Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi, James Venter, Hyron Andrews, JJ van der Mescht, John-Hubert Meyer, Kerron van Vuuren, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Fez Mbatha, Ntuthuko Mchunu, Michael Kumbirai, Reniel Hugo, Mpilo Gumede, Jaden Hendrikse, Manie Libbok, Werner Kok.

Meer oor:  Haaie  |  Voorbereidingsreeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.