Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetah-afjak: Toyota lóóp Saru

Toyota, die Cheetahs se hoofborg, het SA Rugby geplettervat oor sy besluit om die Vrystaters uit die Pro-reeks te skop.

Die motorreus sê SA Rugby het ’n onderneming verbreek dat die Cheetahs deel van die reeks sal bly.

Leon Theron, senior visepresident: verkope en bemarking van Toyota Suid-Afrika, sê in ’n verklaring hulle is gretig om hul nege jaar lange borgskap van die Cheetahs voort te sit. Hy sê egter dis van kardinale belang dat SA Rugby die beginsel van uitspeel- of promosie/relegasie-wedstryde moet aanvaar om te verseker dat die vier beste Suid-Afrikaanse spanne in die Pro16-reeks speel.

“Dit sal skandalig wees as die Cheetahs, die Curriebeker-kampioen en Pro14-baanbrekers wat al meer as ’n eeu Suid-Afrikaanse ondersteuners met hul aanvallende en innoverende rugby vermaak, van dié internasionale blootstelling ontneem word.

“Hulle het ’n goeie wenrekord tot dusver in die Superrugby Unlocked-reeks en lewer ’n stroom talentvolle spelers op. SA Rugby moet alles in sy vermoë doen om te verseker dat die Cheetahs lewensvatbaar en ’n krag bly,” sê Theron.

“Dis betreurenswaardig dat die Cheetahs nie by die uitgebreide Pro16 ingesluit is nie – in ooreenstemming met die versekering wat van SA Rugby in hierdie verband ontvang is.”

SA Rugby moet alles in sy vermoë doen om te verseker dat die Cheetahs lewensvatbaar en ’n krag bly.

Om die geloofwaardigheid en integriteit van die nuwe Pro16-kompetisie volgens Theron te verseker, moet die vier beste franchises speel. Dit moet deur promosie/relegasie of uitspeelwedstryde bepaal word.

“As hierdie beginsel toegepas word, glo ons die vier voorste spanne in die Curriebeker moet in die Pro16 speel.

“Ons glo dis ’n regverdige internasionale beginsel. Ons hoop dit kan so gou moontlik ooreengekom en ingestel word.”

Rapport verneem dat Toyota die afgelope nege jaar reeds ­sowat R250 miljoen in Cheetah-rugby ingeploeg het.

Harold Verster Foto: Gallo Images

Harold Verster, besturende direkteur van Cheetahs, het gesê die Vrystaters steun die beginsel van uitspeel- of promosie/relegasie-wedstryde.

“Dit sal regverdigheid, deelname, blootstelling en die voortgesette ontwikkeling van die vyf groot franchises verseker. Dit lewer ook die beste talent vir ondersteuners en die Springbokke op. Ons salueer Toyota se sterk steun vir die Cheetahs. Hulle het ’n onskatbare bydrae gelewer tot rugby in die Vrystaat en in Suid-Afrika,” sê Verster.

Intussen is daar nog onduidelikheid oor die oorsese toernooi waarin die Cheetahs volgende jaar gaan speel. Hulle is die laaste tyd in ernstige gesprekke met hul aandeelhouer, SuperSport, en SA Rugby oor deelname aan ’n internasionale toernooi. Hulle praat onder meer oor ’n nuwe toernooi in Rusland waarmee hulle met ’n ompad tot die Europese Kampioenebeker-toernooi kan deurdring. ’n Toernooi in die VSA is ook bespreek, maar dit gaan logisties moeilik wees.

Nog ’n toernooi waaroor daar reeds tydens SA Rugby se hoofraadsvergadering gepraat is, is ’n Superagt-toernooi volgende jaar in Australië. Rapport verneem egter dis onwaarskynlik dat dit sal voortgaan.

Meer oor:  Onderneming  |  Toyota  |  Hoofborg  |  Sa Rugby  |  Pro-Reeks  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.