Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetah span sosiale media in vir beter wêreld
Rhyno Smith in aksie vir die Cheetahs tydens ’n Pro14-wedstryd in 2019 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die veelsydige Cheetah-agterspeler Rhyno Smith het ’n uitdaging aan diegene wat hom volg op sosiale media gestel en glo dat dié platform gebruik moet word om van die lewe se vraagstukke te takel.

Smith (27) het op Instagram en Facebook ’n video geplaas waar hy in die Toyota-stadion in Bloemfontein van digby die kantlyn af pale toe skop.

Eers is daar ’n stelskop met die regtervoet, dan ’n skepskop met die regtervoet en dan twee met die linkervoet. Drie van die skoppe is oor en hy daag volgelinge uit om daarop te verbeter.

“Dit is eintlik om interaksie tussen myself en my volgelinge te skep. Ek het opgemerk in die laaste vier of vyf jaar wat ek Instagram het, dat die meeste van my volgelinge dit geniet as ek sulke dinge, soos ’n vaardigheid of toertjie, tentoonstel.

“So, ek het gedink dit is ’n goeie manier om interaksie te skep en hulle in die proses uit te daag. Sodra ’n paar mense dit reggekry het, is die plan om ’n nog moeiliker uitdaging te skep.

“Op hierdie stadium het niemand die uitdaging voltooi nie, so ek sal dit ’n week of so gee en dan aanbeweeg. Ek het wel baie terugvoering van mense gekry, wat sê dat hulle die uitdaging aanvaar,” sê Smith.

Dié voormalige Blitsbok, wat met ’n rapsie meer as 3 200 volgelinge op Instagram spog, glo sosiale media kan aangewend word om die wêreld ’n beter plek te maak.

“Dit is belangrik dat beroepsrugbyspelers en diegene wat ’n platform soos sosiale media het, dit gebruik om positiewe boodskappe uit te stuur. Nie net boodskappe van bemoediging nie, maar ook om van die lewe se ernstiger vraagstukke te takel.

“Waar mense hul platform gebruik om ’n boodskap daarbuite te kry, word die wêreld skielik baie bewus van hierdie of daardie probleem,” sê hy.

Hoewel Smith slyp vir wanneer die rugbyseisoen in die afsienbare toekoms hervat, is dit vir hom belangrik om ’n balans in die lewe te hê – waar rugby nie oorheersend is nie.

“Ek en my vrou (Nadia) hou daarvan om nou en dan na ’n rolprent te kyk, ek leer ’n taal (Frans) en ek studeer (LLB) ook deur Unisa. Ek probeer om nuwe dinge te leer, soos nuwe resepte (in die kombuis) en om besig te bly buite rugby.

“Ek probeer om dit regdeur die jaar te doen, nie net tydens die inperking nie, want ek het gevind dat wanneer rugby al my tyd op ’n spesifieke tydstip in beslag neem, ek op my slegste speel,” sê Smith.

Meer oor:  Franco Smith  |  Rugby  |  Pro14  |  Rhyno Smith  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.