Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetah te gou in sy spore gestuit

’n Soveelste stamp teen die kop het daartoe gelei dat die Cheetahs se veelsydige agterspeler Michael van der Spuy sy stewels moes ophang.

Die Cheetahs se veelsydige agterspeler Michael van der Spuy moes weens ’n gesukkel met harsingskudding sy stewels ophang.Foto: Gallo Images

Sy SuperSport-wedstryd vir die Vrystaat-vyftiental teen die Haaie-vyftiental verlede maand in Bloemfontein was sy laaste. Hy het toe in die laaste 20 minute as plaasvervanger-heelagter gaan speel.

Hy het seergekry toe hy ’n duikslag op die vleuel Sbu Nkosi uitgevoer het.

Die 26-jarige Van der Spuy sê dis ’n groot skok, want hy het verwag om minstens nog ’n paar jaar rugby te speel.

Hy het lank met sy destydse dokter by die Westelike Provinsie, Jason Suter, en die Cheetahs se spandokter, Rudi de Wet, gesels voordat hy besluit het om sy loopbaan kort te knip.

Van der Spuy het Januarie in Zimbabwe in ’n opwarmingswedstryd vir die Cheetahs teen die Stormers ook harsingskudding opgedoen. Spesialiste het later bepaal dat hy weer mag speel.

“Dit is ’n baie moeilike situasie, maar die dokters het gesê dit gaan hier oor my gesondheid op lang termyn. Ek het seker al meer as 15 keer in my loopbaan, die laaste keer teen die Haaie, harsingskudding opgedoen.

“Dit gebeur nou makliker, sommer van kleiner stampe af, en die simptome neem langer om weg te gaan. Hoewel dit moeilik was om te aanvaar, het ek geen ander keuse nie,” sê Van der Spuy.

Die Matie-kaptein, Beyers de Villiers, het vroeër vanjaar ook weens harsingskudding sy stewels opgehang.Foto: Eikestadnuus

Hy het hom intussen by die afrigtingspan van die Vrystaatse o.21-span aangesluit.

“Niks is nog gefinaliseer nie, maar ek praat met die unie oor die moontlikheid om by afrigting betrokke te raak. Ek wil graag help en ’n verskil maak.”

Die oudleerling van Grey-kollege se loopbaan het by die WP begin voordat hy by Griekwas gaan draai en toe vir die Vrystaat uitgedraf het.

Sy beste herinnering was om die Curriebeker in 2014 saam met die WP te wen.

Hy het 36 wedstryde (35 punte) vir die Streeptruie gespeel, vier vir die Stormers, nege vir Griekwas (vyf punte), drie vir die Vrystaat-Cheetahs (vyf punte), ses vir die Vrystaat-vyftiental en 18 vir die Cheetahs (15 punte).

Sy laaste Superrugby-wedstryd was in Maart vanjaar teen die Jaguares in Buenos Aires.

James Broadhurst (middel) in aksie in sy enigste toets teen die Springbokke. Foto: Getty Images

*Die Maties se Varsitybeker-kaptein en flank, Beyers de Villiers (25), het in Februarie sy uittrede aangekondig nadat hy in die eerste wedstryd van die reeks teen Tukkies harsingskudding opgedoen het.

Die All Blacks se slot James Broadhurst (29) wat in slegs een toets in 2015 teen die Springbokke gespeel het, het in April sy stewels opgehang nadat hy lank gesukkel het om van harsingskudding te herstel.

Die Haaie se Springbok-losskakel Pat Lambie (26) se toekoms is ook in die gedrang nadat hy die laaste 18 maande drie keer harsingskudding opgedoen het.

Die All Black-heelagter Ben Smith bevind hom in dieselfde bootjie as Lambie.

Meer oor:  Michael Van Der Spuy  |  Sport  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.