Ruan Pienaar dink nog nie aan uittrede nie.
Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, sê hulle is ook reeds in die proses om sy kontrak te verleng.

Ruan Pienaar, hier teen die Stormers in aksie, dink nog nie aan uittrede nie en gaan volgens Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, nog langer vir die Vrystaters speel. Foto: Gallo Images
Dit het in Pienaar se terugkeer tot die rugbyveld – in die voorbereidingswedstryd teen die Stormers Saterdag in Kaapstad – nie gelyk asof hy op 16 Oktober laas in ’n wedstryd in aksie was nie. Dié ervare Springbok-skrumskakel, wat volgende week 37 jaar oud word, was van meet af aan op sy stukke toe hy in die tweede helfte opgestuur is.
Pienaar het ’n kniebesering in verlede seisoen se tweede Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Bulle in Bloemfontein opgedoen.
Hy het teen die Stormers onmiddellik sy teenwoordigheid laat geld en die tuisspan in trurat geplaas met die Cheetahs se wen van 34-33.
“Ruan het ’n groot verskil gemaak toe hy opgekom het. Hy is ’n ervare speler en het goeie besluite geneem. Hy het die Stormers in daardie laaste 10 minute in hul kwartgebied vasgepen en dit was vir ons belangrik om toe die wedstryd te kon deurtrek,” sê Fourie.
“Wat uittrede betref . . . hy dink beslis nog nie daaraan nie. Hy hardloop nog voor, so ons is tevrede en ons is besig om sy kontrak te verleng. Dit sal binne die volgende paar weke afgehandel word.
“Ons het Maandag daaroor gepraat en ’n aankondiging daaroor sal binne die volgende twee weke gemaak word.”
Die Cheetahs gaan intussen nie nog bykomende spelers kontrakteer nie.
“Ek is tevrede met die groep van 36 wat ons tans het vir hierdie kompetisie. Dit is net vier wedstryde,” sê Fourie.
“Ek gaan almal speelkans gee in die vier wedstryde en dan sal ek sien waar ek daarmee staan. Dis eintlik ook ’n geleentheid vir spelers om na vore te tree en ’n kleim af te steek vir die 23-tal vir watter kompetisie ons ook al ná hierdie een in sal speel. Ons is tevrede met die diepte in die groep en gaan nie nog spelers van buite af inkry nie.”
Die Cheetahs se volgende wedstryd – teen die Haaie – is Woensdag in Bloemfontein en nie meer Dinsdag soos op die aanvanklike bepalingslys nie.
Fourie sê hulle het ná hul videosessie van die wedstryd teen die Stormers opnuut gesien waaraan geskaaf moet word. Hul afronding in die teenstanders se kwartgebied het hom onder meer gepla en hy sê dis iets waarin hulle moet verbeter.
“Ons aanvallende spel in die Stormers se kwartgebied was baie swak. Ons het 12 geleenthede in hul kwartgebied gehad en ons het een drie gedruk, wat nie goed genoeg is nie. So ons het baie werk wat dit betref,” sê Fourie.
“Die hanteerwerk en swak skoppe op verkeerde tye is ook van die goed waaraan ons beslis aandag moet gee. En dan het ons ook in die skrums gesukkel, veral in die eerste helfte en nou en dan ’n belangrike lynstaanbal in hul kwartgebied verloor wat ons momentum gebreek het.”