Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs groet Franco gepas met 3de sege
Die regtervleuel William Small-Smith duik oor vir sy drie in die tweede helfte. Foto: Mlungisi Louw

Die Cheetahs het rugbygeskiedenis gemaak met hul oorwinning van 40-16 oor Munster in dié spanne se Pro14-wedstryd Vrydagaand in Bloemfontein.

Hulle het nou amptelik al die spanne in die reeks geklop sedert hulle deel van die Pro14-reeks geword het en hulle het ook die eerste keer hul eerste drie wedstryde van die seisoen gewen.

Dit was boonop ’n gepaste afskeidsgeskenk vir die waarnemende afrigter, Franco Smith, sowel as die Springbok-stut Ox Nche en die losvoorspeler Henco Venter, wat hulle aan die einde van die maand by die Haaie aansluit.

Na 50 minute was daar die eerste keer ’n dringendheid onder die Cheetahs te bespeur, want toe eers het die voorspelers hul voet neergesit en na ’n hoër rat oorgeskakel.

Die haker, Joseph Dweba, Speler van die Wedstryd, het met 55 minute die bonuspuntedrie gaan druk en Munster se ore het behoorlik gehang.

Die haker, Joseph Dweba, Speler van die Wedstryd, het met 55 minute die bonuspuntedrie gaan druk en Munster se ore het behoorlik gehang.

Die wenspan het uiteindelik ses drieë gaan druk.

Die rustydtelling van 12-9 in die guns van die tuisspan was ’n getroue weergawe van die eerste helfte.

Munster se kaptein, Billy Holland, moet dalk oorweeg om by ’n debatspan aan te sluit, want hy het so baie met die skeidsregter, Mike Adamson, geredekawel, dit het behoorlik gelyk of hulle strategie bespreek het.

Die Cheetahs se eerste drie het ná 10 minute gekom, oomblikke nadat die Munster-haker, Rhys Marshall, met ’n geelkaart afgestuur is.

Die flank Junior Pokomela op pad na sy drie in die eerste helfte. Foto: Mlungisi Louw

Nche, in sy laaste wedstryd in die Toyota-stadion vir die Cheetahs, het langs die regoppaal gaan druk nadat die Munster-verdedigers hom nie kon keer nie.

Tot voor die drie gedruk was, het Munster daarin geslaag om die spel te vertraag en Adamson (skeidsregter van Skotland) het dit eenvoudig toegelaat.

Munster se losskakel, Tyler Bleyendaal, wat sy rugby in Christchurch geleer het, het al sy span se punte in die eerste helfte met drie strafdoele aangeteken, want daar was geen deurkomkans op die aanval nie.

Die sloertaktiek van die besoekers het verhinder dat die Cheetahs hul gewone hoë intensiteit rugby kon speel.

Vir 20 minute kon die wedstryd net nie aan die gang kom nie. Munster het in daardie stadium die meeste van die besit geniet, maar kon niks daarmee uitgerig kry nie.

Die Cheetahs se handvol hanteerfoute in die eerste helfte het ook verhinder dat hulle aan die gang kon kom.

Met dié oorwinning het die Cheetahs gewys, nadat hulle hul ritme gevind het, dat hulle vorige twee oorwinnings nie gelukskote was nie, maar die van ’n mededingende span.

Die Cheetahs se volgende wedstryd in op 26 Oktober teen Connacht in Galway, Ierland.

Puntemakers

Cheetahs 40 (12): Drieë: Ox Nche, Junior Pokomela, William Small-Smith, Joseph Dweba, Jasper Wiese, Rhyno Smit. Doelskoppe: Ruan Pienaar (4), Tian Schoeman.

Munster 16 (9): Drie: Dan Goggin. Doelskop: JJ Hanrahan. Strafdoele: Tyler Bleyendaal (3).
Meer oor:  William Small-Smith  |  Franco Smith  |  Bloemfontein  |  Munster  |  Cheetahs  |  Pro14-Reeks  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.