Die Vrystaat-Cheetahs is nog ’n speler kwyt met die nuus dat een van die span se hakers, Jacques du Toit, ook sy rugbyloopbaan oorsee gaan voortsit.

Jacques du Toit op die aanval vir die Cheetahs in ’n Pro14-wedstryd teen die Glasgow Warriors in 2017 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images
Du Toit (27) het aan Netwerk24 bevestig dat hy voortaan vir die Engelse klubspan Bath sal uitdraf.
Hy wag net vir sy en sy gesin se visums en vlugbesprekings, wat volgens hom beteken dat hy reeds vandeesmaand of vroeg in Januarie na Brittanje sal vertrek.
Dié boorling van Bloemfontein en oudleerling van Grey-kollege het die Vrystaat in 2011 by die Cravenweek-toernooi verteenwoordig. In 2013 het hy vir die Junior Bokke gespeel.
Hy het die Cheetahs en Southern Kings in die Pro14-reeks verteenwoordig. Hy het vroeër vanjaar na die Rosestad teruggekeer ná ’n tydjie in Port Elizabeth.
Du Toit is nie die enigste Cheetah wat voortaan vir Bath gaan uitdraf nie. Die losskakel Tian Schoeman het vroeër reeds aangedui dat hy loopbaan daar gaan voortsit.
Spelers soos Luan de Bruin (stut), JP du Preez (slot), Walt Steenkamp (slot) en Benhard Janse van Rensburg (senter) het reeds die unie verlaat.