Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs hou uitverkoping van spelers

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se besluit dat die Curriebeker-reeks volgende jaar voor die aanvang van die Pro14-reeks gaan klaarmaak, het die Cheetahs genoop om maniere te vind om hul spelerskorps te verklein.

In ’n brief wat dié unie aan agente gestuur het, sê die Cheetahs ander unies kan sekere van hul spelers kontrakteer, selfs al is dié betrokke spelers nog onder kontrak by die Cheetahs.

Die Vrystaatse unie sal nie oordraggelde van dié unies vir die betrokke spelers vra nie.

Die Cheetahs se hoofafrigter, Franco Smith, vroeër vanjaar op die kantlyn tydens een van die Cheetahs se Pro14-wedstryde, in Swansea in Wallis.Foto: Gallo Images

Die Cheetahs is die tweede franchise wat besluit om sy groep uit te dun. Die Leeus het ’n paar weke gelede aangedui hulle het skeidingspakkette aan sekere junior spelers toegestaan. Die Cheetahs wil egter hul senior spelerskorps uitdun.

In die brief, wat Rapport onder oë gehad het, skryf Harold Verster, die Cheetahs se besturende direkteur, dié unie sal sy kontrakte eerbiedig, maar dat hy spelers geïdentifiseer het in wie se pad hy nie sal staan as ander geleenthede opduik nie.

’n Dosyn of meer van die Cheetahs se Pro14-spelers kan sodoende groener weivelde gaan soek, al is hulle steeds gekontrakteer. Verskeie sleutelspelers in die Cheetah-kamp sê hulle weet niks van die brief nie en is ook nie deur die bestuur oor die besluit ingelig nie.

Verster het aan Rapport gesê daar is niks ongewoon aan die besluit nie en dit word gedoen met die beoogde nuwe kontrakteringsmodel as die basis.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en die spelersvereniging, Sarpa, het ’n paar maande gelede ’n nuwe kontrakteringsmodel voorgestel wat die aantal beroepspelers in die land van bykans 1 000 na net oor die 400 sal verminder. Spanne sal tussen 40 en 45 spelers mag kontrakteer.

Die Cheetahs is wel in ’n unieke situasie omdat hulle twee spanne moes kontrakteer weens die oorvleueling van die Curriebeker- en die Pro14-reeks. Daar is volgens inligting meer as 50 senior spelers op hul boeke.

Die spelers is gekontrakteer om in die tydperk wanneer die Curriebeker en Pro14 oorvleuel, te verseker daar is genoeg spelers om van te kies.

Die besluit dat die Curriebeker in 2019 voor die Pro14 sal klaarmaak, is glo by Saru se jaarvergadering goedgekeur. Nou sit die Cheetahs met te veel spelers.

Volgens Rapport se inligting is losskakel en skrumskakel twee van die posisies wat geraak gaan word. Die Cheetahs het reeds die skrumskakel Zee Mkhabela van sy kontrak vrygestel en het drie ander skrumskakels – Tian Meyer, Shaun Venter en Rudy Paige – in hul groep. Een van dié drie kan ook geraak word.

Op losskakel kan Ernst Stapelberg in die spervuur wees.

Sulke spelers kan selfs voor die einde van dié seisoen se Pro14-reeks vrygestel word.

Verster sê dit is bloot om die provinsie in ooreenstemming met die beoogde nuwe kontrakteringsmodel te bring dat sekere spelers sonder ’n oordragfooi aan ander unies afgestaan sal word. “Ons gee net ons spelers die geleentheid om, as hulle ’n aanbod het, aan te beweeg. Ons is nie die enigstes nie.”

Anders as die Leeus het kleiner unies soos die Griffons, Luiperds, OP en Boland weens finansiële druk nie spelers gekontrakteer nie. Verskeie WP-spelers het ook vanjaar in opstand gekom nadat hul name op ’n lys verskyn het van spelers waarvan dié unie glo ontslae wou raak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.