Jean Droste, voormalige veelsydige slot van die Haaie en Bulle, gaan sy rugbyloopbaan by die Cheetahs voortsit.
Die Cheetahs sal straks binnekort sy koms en dié van nog ’n slot en ’n stut amptelik bevestig.

Jean Droste gaan die Cheetahs se yl slot-spens help aanvul. Foto: Getty Images
Die Vrystaters was met die vertrek van ’n rits slotte – altesaam ses – én ’n paar stutte genoop om hul spens wat die vaste vyf betref aan te vul.
Droste, wat dié week 27 geword het, is ’n oud-Affie wat sy jeugrugby by die Bulle gespeel het voordat hy na die Haaie is.
Hy het in die 2018-’19-seisoen vir die Kubota Spears in Japan uitgedraf waarna hy na die Bulle teruggekeer het. Hy was verlede jaar by die NEC Green Rockets in Japan betrokke.
Die ander slot op pad het ook die laaste ruk sy rugby in Japan gespeel.
Rynier Bernardo (29) is ’n ou bekende in Bloemfontein. Hy het in 2017 en 2018 vir die Cheetahs gespeel voordat hy vir die Canon Eagles in Japan gaan diens doen het.
Hy het onder meer voorheen ook vir die Southern Kings, Ospreys en Scarlets gespeel.
Die stut Alulutho Tshakweni, oorspronklik van Grens, is nog ’n voormalige Kings-speler wat op pad na die Rosestad is.