Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs ontbied Koen ná terugslae
Sias Koen moes hom vandeesweek na Wallis haas vir die Cheetahs se wedstryd Saterdag teen die Dragons in Newport.Foto: Gallo Images

’n Losvoorspeler-krisis het die Cheetahs genoop om Sias Koen vandeesweek deur die Cheetahs na Wallis te ontbied.

Die Cheetahs kan die flank Chris Massyn weens harsingskudding nie oorweeg nie, terwyl die agtsteman Jasper Wiese Woensdag vir vier wedstryde geskors is.

Koen sou hom Donderdagmiddag by die Cheetahs in Cardiff aangesluit het vir Saterdag se Pro14-wedstryd teen die Dragons in Newport.

Gerhard Olivier, Junior Pokomela en Aidon Davis is die ander losvoorspelers op toer.

Die Cheetahs se afrigter, Hawies Fourie, sê Wiese se tweede skorsing van die seisoen is ’n kwaai terugslag vir die span.

“Hy het nou net weer goeie rugby begin speel ná sy vorige skorsing. Om sewe wedstryde van die kompetisie mis te loop as gevolg van skorsings is omtrent ’n derde van die wedstryde.

“Dis ’n groot terugslag om ’n speler van sy gehalte te verloor vir so lank, maar dis nou hoe dit is en ons kan niks daaraan doen nie,” sê Fourie.

Dis ’n groot terugslag om ’n speler van sy gehalte te verloor vir so lank, maar dis nou hoe dit is en ons kan niks daaraan doen nie.
Hawies Fourie

Hy sê hulle het tydens die verhoor hul bes probeer en kon daarin slaag om darem twee weke “af” te kry van wat die skorsing normaalweg sou wees.

“Dis ook sleg dat Massyn uit is met harsingskudding, so ons verloor twee van ons drie losvoorspelers wat in die beginspan was die laaste twee wedstryde.

“Sias gaan net een dag hê om saam met ons te oefen tydens die kapteinsoefening, so hy sal vinnig weer moet inskakel en alles leer ken. Dit gee egter weer aan hom ’n geleentheid om sy voet in die deur te kry.”

Fourie het geen geheim daarvan gemaak nie dat ’n oorwinning oor die Dragons ononderhandelbaar is. Die Cheetahs het hul eerste twee wedstryde op toer verloor.

Hawies Fourie

“Die toestande lyk my gaan weer moeilik wees, dit het verskriklik baie gereën in Newport die afgelope twee tot drie weke, met die Dennis-windstorm wat hier deurbeweeg het.

“Ons is in die stadium onseker of ons Vrydag op die veld sal kan oefen as dit te nat is.

“As dít die geval is, sal ons hier in Cardiff ’n veld moet kry, maar ek hoop dat ons wel toegelaat sal word om daar te oefen,” sê Fourie.

Hy sê reën word vir die volgende paar dae in Newport voorspel.

“Daar lê ook sneeu op die berge in die omgewing, so dit gaan baie koud wees saam met die reën oor die naweek. Ons is darem nou gewoond aan die toestande, ons oefen gereeld daarin en het goed daarby aangepas.

“Ek is vol vertroue dat ons ’n goeie vertoning Saterdag sal lewer, ons is desperaat vir daardie wen. Ons wil nie terugkeer Suid-Afrika toe sonder dat ons teen die Dragons gewen het nie,” sê Fourie.

Meer oor:  Jasper Wiese  |  Hawies Fourie  |  Bloemfontein  |  Cardiff  |  Cheetahs  |  Dragons  |  Pro14-Reeks  |  Beserings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.