Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs: Oupa Mohoje se knie lol weer

Die Springbok-flank Oupa Mohoje sal Woensdag weet wat sy lot is met sy knie wat hom al langer as ’n jaar op die kantlyn hou.

Die 29-jarige Mohoje gaan volgende week weer ’n spesialis spreek.

Oupa Mohoje se toekoms ná ’n ernstige kniebesering in 2018 is nog onseker. Foto: Gallo Images

Hy het in September 2018 in die Cheetahs se eerste Pro14-wedstryd van die seisoen teen Munster in Limerick die kruisligamente in sy regterknie geskeur en met sy terugkeer ’n operasie ondergaan.

Voor die jongste terugslag is berig dat hy binnekort sy terugkeer kan maak en dat hy dalk voortaan op slot ingespan gaan word.

Die Cheetahs sal ook versigtig te werk gaan met die senter Dries Swanepoel. Hoewel hy sy skorsing uitgedien het, sal hulle dalk eers in Februarie met hom waag nadat hy intussen laat werk het aan sy hak, wat hom al ’n ruk lank probleme gee.

Die span se volgende wedstryde is die twee plaaslike derbies teen die Southerns Kings op 25 Januarie in Port Elizabeth en op 1 Februarie in Bloemfontein.

Die Cheetahs se ander geskorste speler, die losvoorspeler Jasper Wiese, gaan in die tweede wedstryd ingespan word.

Wiese gaan voor dit op 25 Januarie vir ’n span bestaande uit die oorblywende spelers in die groep teen die Maties in Bloemfontein sy terugkeer tot die spel maak.

Die Cheetahs-afrigter, Hawies Fourie, wil dié oefenwedstryd gebruik om die spelers wat nie tans in die wedstryd-23-tal is nie, skerp te hou en dit is ook ’n geleentheid vir beseerdes om te wys hulle is gereed.

Fourie sê die feit dat daar nie vir dié randspelers geleenthede is om in wedstryde te speel nie, is vir sowel hom as die spelers ’n probleem.

“Dit veroorsaak dat jy nie juis weet wat ’n speler se spelpeil is nie. Dit is een van die uitdagings met die reeks.

“Die Kings is in dieselfde posisie. Ek het vir Robbi Kempson (Kings-breier) die ander dag by die lughawe gekry en hy sê dit is ook ’n probleem vir hulle.”

Die ander uitdaging vir Fourie-hulle is dat daar soms in die Pro14-reeks weke verbygaan waarin hulle nie wedstryde speel nie, soos die afgelope maand asook in Januarie, toe hulle net twee wedstryde gespeel het.

Planne wat in November gesmee is om die komende Vrydag teen die Bulle of Leeus te oefen, het ook nie gerealiseer nie.

* Die senter William Small-Smith, wat verlede Saterdag in Parma in die tweede helfte van die wedstryd teen Zebre vervang moes word ná ’n harde stamp, het Woensdag en Donderdag se oefeninge misgeloop, maar sal Maandag weer by sy spanmaats aansluit.

Meer oor:  Oupa Mohoje  |  William Small-Smith  |  Cheetahs  |  Pro14-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.