Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs-ranker Hugo dalk gou ’n Haai

Reniel Hugo se besluit om Bloemfontein te verlaat, beteken dat die Cheetahs dié rugbyseisoen reeds ses slotte verloor het.

Die Cheetahs het Vrydag bevestig dat Hugo groener weivelde gaan soek, maar nie gesê waar hy sy loopbaan gaan voorsit nie. Gerugte wil dit hê dat Hugo hom by die Haaie kan aansluit.

Nog ’n gesoute slot, Reniel Hugo, gaan die Cheetahs verlaat. Foto: Getty Images

Die Cheetahs is met Hugo se vertrek – enkele dae ná die aankondiging van sy slotmaat Carl Wegner se skuif na Benetton in Treviso – in ’n slotkrisis gedompel.

Benewens dié twee rankers, het Sintu Manjezi en Walt Steenkamp hulle by die Bulle aangesluit; die hemelbesem JP du Preez is vort na die Sale Sharks in Engeland en Ian Groenewald het ná ’n kort kamee by die Cheetahs ’n aanbod van die Franse klub Valence Romans aanvaar.

Hoewel die 30-jarige Hugo die afgelope seisoen maar min in aksie was, is die verlies van dié lynstaanspesialis ’n slag vir enige span.

Die ervare ranker het gewys waartoe hy in staat is in die Vrystaat-Cheetahs se laaste Curriebeker-wedstryd teen Griekwas verlede naweek, toe hy ’n lynstaanbal vyf tree van die doellyn gegaps het waarmee die Poubloues die wedstryd kon wen.

Hugo was die seisoen min in aksie weens ’n kniebesering. Hy het in die Curriebeker-wedstryd teen die Leeus uiteindelik die seisoen sy terugkeer tot die spel as plaasvervanger gemaak.

Hugo, ’n voormalige kaptein van die Cheetahs, het toe eers genoegsaam herstel van ’n kniebesering wat hy in ’n oefening in die voorseisoen opgedoen het.

Hugo het in 2016 Curriebeker-glorie saam met die Cheetahs gesmaak.

Hy het ná die Cheetahs se eerste Pro14-seisoen twee jaar lank vir Toyota Verblitz in Japan gespeel voordat hy hom weer by die Cheetahs aangesluit het.

Die Cheetahs moet nou weer ’n plaasvervanger vir hom kry.

Rugby sal intussen glo eersdaags hervat met ’n reeks tussen agt van die land se spanne, terwyl die Curriebeker-reeks later vanjaar oor ’n dubbelronde gespeel gaan word.

Losvoorspelers soos Aiden Davis en Oupa Mohoje kan ook voortaan op slot oorweeg word.

Die Cheetahs sal stellig al hul beskikbare fondse nou op slotte en stutte bestee.

Die span is kwaai uitgedun sedert sy afjak uit die nuwe Pro16-reeks-geledere.

Die klousule wat spelers toegelaat het om hulle kontrakte op te sê omdat daar ’n verandering aan die span se kompetisiestruktuur was, verval einde vandeesmaand.

Die veelsydige heelagter Rhyno Smith het Vrydagaand bevestig dat hy sy loopbaan by ‘n klub in Europa gaan voortsit.

Smith was die voorste driedrukker met 10 drieë in 13 wedstryde in die verkorte Pro14-reeks van die 2019-'20-seisoen.

Meer oor:  Cheetahs  |  Reniel Hugo  |  Carl Wegner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.