Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs se Kruger Kings toe ná CB-reeks

Tussen al die goeie nuus die laaste ruk by die Cheetahs, is daar ook een brokkie slegte nuus en dít is dat die sterk senter Tertius Kruger hom aan die einde van die Curriebeker-reeks by die Southern Kings gaan aansluit.

Die Vrystaatse senter Tertius Kruger ontduik die Griekwas se losskakel, André Swarts, in die spanne se SuperSport-uitdaagstryd in Rustenburg. Foto: Gallo Images

Hy sê dit is vir hom sleg om die Cheetahs te verlaat, maar hy voel ná sewe jaar het dit tyd geword vir ’n nuwe uitdaging en hy moet aan sy toekoms dink.

Die 24-jarige Kruger was vanjaar met ses drieë in vier wedstryde, voordat hy sy kakebeen gekraak het, die Vrystaters se voorste driedrukker in die SuperSport-uitdaagreeks.

“Ek wou regtig nog aangebly het, maar daar was verskeie ander faktore wat ’n rol gespeel het in my besluit. Ek glo dit is die regte een vir my loopbaan. Ek is in Januarie getroud en my vrou (Muncke) is ’n biokinetikus, so ons twee pak nou saam ’n nuwe avontuur aan.

“Waar ek voorheen tussen Bloemfontein en Welkom en Bloemfontein en Kimberley moes pendel, pak ons nou alles op en trek Port Elizabeth toe,” sê Kruger, wat laat verlede jaar sy Pro14-buiging vir die Cheetahs teen Connacht in Galway, Ierland, gemaak het.

Dit gaan vir my daaroor dat ek speelkans kry, waar ek een van die eerstekeuse-spelers is, en ek glo dit is wat die Kings my kan bied,
Tertius Kruger

Hy was sedert 2012 deel van die Cheetahs-familie en het ook vir die Griffons en die Griekwas as leenspeler diens gedoen.

Dit was veral vir die Poubloues wat hy as senter uitgestaan het. Hy was verlede seisoen hul Speler van die Jaar. Daar was selfs sprake dat hy Griekwas se volgende Springbok kon word en hy het steeds daardie droom.

Wat presies weet hy van sy nuwe span?

“Ek gaan met toe oë Kings toe. Ek het naam gemaak by ’n klein unie soos die Griffons en later Griekwas, nou moet ek die beste van die skuif maak.

“Dit gaan vir my daaroor dat ek speelkans kry, waar ek een van die eerstekeuse-spelers is, en ek glo dit is wat die Kings my kan bied,” sê hy.

Kruger het ook onderhandel met die Leeus en dan was daar ook aanbiedinge uit Japan, maar die Baai het dié ronde gewen.

Meer oor:  Tertius Kruger  |  Cheetahs  |  Kings  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.