Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mnisi ‘systap’ tarentale, rol motor

Die Cheetahs se nuwe senter-aanwins, Howard Mnisi, is verlig dat hy ’n ernstige motorongeluk verlede week sonder skete kon oorleef, maar dis nie iets waaroor hy nou gaan wakker lê nie.

Die Cheetahs se nuwe senter-aanwins Howard Mnisi, het ’n noue ontkoming gehad nadat sy motor gerol het. Foto: Gallo Images

Mnisi was op pad Bloemfontein toe om by die Cheetahs vir Covid-19-toetse aan te meld, toe hy naby Senekal in die Vrystaat beheer oor sy motor verloor en dit gerol het.

“Ek het uitgeswaai vir vier tarentale in die pad en in die proses om weer op die pad te kom, het die motor gerol.

“Ek het daarin geslaag om die tarentale te vermy en dis toe dat my motor die teerpad verlaat het.

“In ’n poging om weer terug op die pad te kom, het ek egter beheer verloor. Die motor het oor die pad geskiet en op ’n afdraand-paadjie na ’n plaas beland, waar dit toe gerol het,” sê Mnisi.

Hy het ongeskonde uit die wrak geklim en onthou nie veel meer van die ongeluk nie.

“Wat ek wel onthou is dat daar sowat ’n honderd meter agter my ’n vragmotor was. Die bestuurder het stilgehou en my te hulp gesnel. ’n Ent agter die vragmotor was ’n polisievoertuig, wat ook by die toneel gestop het om te help.”

Mnisi sê ofskoon die motor erg beskadig is, het hy behalwe ’n paar kneusplekke geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Wat gebeur het, het gebeur. Ek dink nie die ongeluk gaan by my spook nie. Dit was bloot ’n ongeluk, niks anders nie. Dit kon erger verloop het.

“Ek is net bly ek is ongedeerd. Boonop kon ek vir die toetse in Bloemfontein aanmeld.”

Hy was een van vyf spelers wie se kontrakte op 1 Julie in werking getree het, wat vir Covid-19-toetse moes gaan.

Die ander was die slotte Reniel Hugo en Carl Wegner, die losskakel Reinhardt Fortuin en die losvoorspeler Andisa Ntsila.

“Nou is ek weer hard aan die werk en ek wil soos almal seker wees ek is gereed vir wanneer ons die groen lig kry om in groepe te kan oefen,” sê Mnisi.

Hy was voor sy koms na die Cheetahs by die Southern Kings, maar is deur beserings gery en het maar min speelkans gekry. Hy hoop om by die Cheetahs weer sy rugbyloopbaan op koers te kry.

Meer oor:  Howard Mnisi  |  Cheetahs  |  Motorongeluk  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.