Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs se ster-slot vat dalk pad

Die Cheetahs voer ’n verlore stryd onder hul spelers om die persepsie af te skud dat jy net ’n Springbok uit Superrugby en nie uit die Pro14-reeks kan word nie.

Nog een van hul groot sterre, Sintu Manjezi, het soos in die geval einde verlede jaar met Ox Nche en Henco Venter nie ’n baie goeie aanbod van die Cheetahs aanvaar om sy kontrak te verleng nie. Dit lyk ook nie of Manjezi van besluit gaan verander nie.

Die Stormers is die week as ’n nuwe heenkome vir hom genoem, terwyl nog ander Superrugbyspanne soos die Haaie en oorsese klubs belangstelling in die woelige 24-jarige slot toon.

Aangesien spelers van Suid-Afrikaanse spanne eers amptelik op 1 Julie mag begin onderhandel, mag niemand tans sonder die nodige goedkeuring van die onderskeie unies bevestig waarheen Manjezi skuif nie.

Sintu Manjezi
Sintu Manjezi Foto: Getty Images

Behalwe vir die bogenoemde persepsie waarvan die Cheetahs ontslae wil raak, sit Hawies Fourie se span ook met die probleem dat hoe beter die Vrystaters doen, hoe groter is die kans dat ander spanne hul spelers gaan kontrakteer.

Manjezi was een van die sterre toe die Cheetahs verlede jaar die Curriebeker gewen het.

Dié voormalige kaptein van St. Andrew’s College in Makhanda vaar ewe goed in die Pro14.

Hy het duidelik nog nie sy plafon as ’n rugbyspeler bereik nie nadat hy in 2016 sy Superrugby-buiging vir die Kings gemaak het.

’n Enkel- en kniebesering teen die einde van die 2016-seisoen het hom tot middel 2017 van die veld gehou, wat verhinder het dat hy soos een van sy skoolmaats, Tyler Paul van die Haaie, vinniger vordering in sy loopbaan maak.

Toe die Kings in 2017 uit die Superreeks geskop is, is Manjezi na Kimberley waar hy hom by die Griekwas aangesluit het. Hy het na ’n span geskuif waar hy genoeg speelkans sou kry om homself te bewys.

Dié skuif kon die einde van sy loopbaan of die begin van groter dinge beteken.

Gelukkig het dinge vir dié deeltydse beesboer uitgewerk.

Hy is in 2018 as Griekwas se Voorspeler van die Jaar aangewys voordat hy hom by die Cheetahs aangesluit het.

Dit lyk nou of dié boorling van Oos-Londen dieselfde pad as spelers soos Makazole Mapimpi, Nche en Venter sal stap.

Dis nie ’n geval dat Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se persepsie van Pro14-rugby verkeerd is nie.

Hulle ken die Pro14 vanweë hul draai by Munster baie goed.

Erasmus het ook in 2018 vir Nche as ’n Cheetah vir ’n enkele toets gekies.

Nche is egter onder meer na Durban om homself in die Superreeks aan Erasmus te bewys.

Dis egter vir Erasmus-hulle moeilik om spelers met mekaar te vergelyk wat in twee totaal verskillende kompetisies speel.

Meer oor:  Sintu Manjezi  |  Cheetahs  |  Rugby  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.