Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs se stut-spens moet vir eers die ding doen

Die Cheetahs se agttal sal vir eers die mas moet opkom sonder Aranos Coetzee, wat vir Namibië in die Wêreldbeker-toernooi in Japan gaan diens doen.

Coetzee en die Cheetahs se Springbok-loskopstut, Ox Nche, was twee van die uitblinkers in die pas afgelope Curriebeker-reeks.

Charles Marais het van ’n kniebesering herstel en sal die Cheetahs se agttal meer woema gee in die Pro14-reeks, wat op 27 September afskop. Foto: Gallo Images

Daar word wel verneem dat onderhandelinge met moontlike stut-aanwinste in ’n sensitiewe stadium is.

Nche groet die Cheetahs later vanjaar en sal hom by die Haaie se Superrugby-groep in Durban aansluit.

Die jong vaskopstut Erich de Jager is in die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks teen die Haaie in Bloemfontein by die diep kant ingegooi en het só goed geswem dat die Curriebeker-afrigter, Franco Smith, hom vir die eindstryd weer vir die beginspan gekies het. Die ervare Charles Marais, wat van ’n kniebesering herstel het, was op die plaasvervangersbank.

’n Ander Cheetahs-stut, die beseringsgeteisterde Luan de Bruin, het pas van ’n langtermyn-nekbesering herstel en is oorgehaal om te speel. Hy het reeds ná die Vrystaat-Cheetahs se halfeindstryd die groen lig gekry om na die veld terug te keer.

Hawies Fourie, die Cheetahs se nuwe afrigter, sê sy span behoort oor die weg te kom vir die duur van die Wêreldbeker-toernooi. Namibië se WB-veldtog sal na verwagting op 13 Oktober (die dag van sy laaste groepwedstryd) eindig, wat beteken dat Coetzee nie te veel wedstryde sal misloop nie. Die Pro14-reeks skop op 27 September af.

Wat die voorrye betref, kan Ox darem nog vir ons speel tot einde Oktober en Aranos sluit weer by ons aan sodra Namibië klaar is met hul verpligtinge by die Wêreldbeker-toernooi.
Hawies Fourie

Fourie sal hom weens ’n prostaatoperasie eers later by die span aansluit, met Smith wat waarneem as afrigter vir minstens die eerste drie Pro14-wedstryde.

“Wat die voorrye betref, kan Ox darem nog vir ons speel tot einde Oktober en Aranos sluit weer by ons aan sodra Namibië klaar is met hul verpligtinge by die Wêreldbeker-toernooi.

“Luan sal 100% wees sodra ons weer (Woensdag) begin oefen en Charles is reeds reg. Ek glo ons sal gereed wees vir die Glasgow Warriors oor twee weke in die Toyota-stadion,” sê Fourie.

Nog ’n opsie wat die Cheetahs tot hul beskikking het, is om die haker Reinach Venter op vaskopstut in te span.

Die Cheetahs se vorige skrumdokter, Daan Human, het Venter gehelp om geleidelik die skuif van haker na stut te maak, maar met die Europese velde wat in die komende Noordelike Halfrond-winter meestal swaar gaan wees, is dit dalk bo sy vuurmaakplek om hom teen internasionale spelers te laat skrum.

Dan is daar ook nog die loskopstut Boan Venter, wat rypgemaak word om sy voete in Pro14-vlak te vind.

Die huursoldaat Schalk (Hond) van der Merwe het intussen vir eers sy stewels weggepak. Hy en sy eertydse Ulster-spanmaat Louis Ludik het ’n sakeonderneming in Dublin, Ierland, begin.

Hulle gaan vleis en boerewors aan 30 winkels van ’n bekende kettingwinkelgroep in Ierland verskaf. Hy het reeds Woensdag in Dublin geland.

Meer oor:  Cheetahs-Stutte  |  Agttal  |  Aranos Coetzee  |  Pro14  |  Ox Nche
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.