Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs se Venter praat met Ospreys
Shaun Venter kan as onderhandelinge suksesvol is, hom by die Ospreys aansluit. Foto: Gallo Images

Die Walliese Pro14-spanne is hard besig om na spelers van die Cheetahs te vry.

Die Cheetahs se skrumskakel Shaun Venter is op die inkopielys van die Ospreys en kan Bloemfontein waarskynlik aan die einde van die Curriebeker-reeks verlaat.

Venter het Woensdag bevestig dat hy tans onderhandel met die span van Swansea.

Indien Venter (32) wel besluit om Wallis sy nuwe tuiste te maak, kan dit waarskynlik ’n einde aan sy Springbok-drome maak.

Ek sal nooit opgee of ophou droom om ’n Bok-trui te kan aantrek nie. Ek dink dis enige rugbyspeler se droom om vir sy land te kan speel.
Shaun Venter

“Ek sal nooit opgee of ophou droom om ’n Bok-trui te kan aantrek nie. Ek dink dis enige rugbyspeler se droom om vir sy land te kan speel,” vertel Venter.

Hy sê die Ospreys het hom genader met ’n kontrak, maar erken dit was nie ’n maklike besluit nie.

“Ek het ’n gesin waaraan ek moet dink en ons is baie gelukkig in Bloemfontein. Dit is finansieel vir ons ’n goeie geleentheid en wag ek langer, sal ek nie dalk weer so ’n geleentheid kry nie.

“Ek het ’n lang gesprek gehad met hul afrigter (Alan Clarke) en die manier hoe hulle wil speel, gaan my baie goed pas, so dit klink darem asof ek kans gaan kry om te speel en nie net ’n tweedekeuse-skrumskakel sal wees nie.”

Venter sê hy sal waarskynlik sy loopbaan oorsee afsluit, maar dit is nog te vroeg om nou reeds oor so iets te besluit.

Hy gaan die Cheetahs, wat hy as sy tweede familie bestempel, baie mis.

“Ek is baie dankbaar dat ek vir solank vir hulle (Cheetahs, sedert 2014) kon speel en ’n verskil kon maak op die veld. Ek het baie vriende die laaste vyf jaar gemaak en die mense van Bloem is besonders. Ons twee kinders is in Bloem gebore en dis ’n great plek om te bly,” sê die boorling van Witbank.

Vrystaat
Rudy Paige

By die Vrystaat is Venter tans een van ’n halfdosyn skrumskakels. Sy mede-kaptein, Tian Meyer, en die Springbok-skrumskakel Rudy Paige is die ander wat agter die oond skoonmaak vir die Vrystaat-Cheetahs en Cheetahs.

Wat die jonger spelers betref, is daar nog Ruben de Haas (11 toetse vir Amerika) en Dian Badenhorst wat diens in die SuperSport-uitdaagreeks gedoen het.

Die Junior Springbok Rewan Kruger (wat vir die Vrystaat o.21-span uitdraf) is die ander speler wat vir hoër louere bestem is.

Die Cheetahs het ná hul eerste Pro14-seisoen die Springbok-losvoorspeler Uzair Cassiem, heelagter Clayton Blommetjies (albei Scarlets) sowel as stut Tom Botha (Ospreys) aan Walliese klubs afgestaan.

Nog gerugte uit Wallis is dat die Scarlets glo die Springbok-losvoorspeler Oupa Mohoje die hof maak.

“Dis die eerste keer dat ek daarvan hoor. Niemand by die Scarlets het nog met my gepraat nie en daarby is ek tot die Cheetahs tot aan die einde van Mei 2020 verbind,” het Mohoje egter by navraag gesê.

Niemand by die Scarlets het nog met my gepraat nie en daarby is ek tot die Cheetahs tot aan die einde van Mei 2020 verbind.
Oupa Mohoje

Hy het gesê hy sal by sy agent moet hoor of die Scarlets wel in hom belangstel, maar volgens sy kennis, is dit net gerugte.

Die haker Elandré Huggett en die slot Dennis Visser het intussen kontrakte met die Franse klubspan Narbonne gesluit. Hul kontrakte met die Vrystaat Rugbyunie het einde Mei verstryk.

* Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se nuwe kontrakteringsmodel wat verlede week aangekondig is, is ontwerp om spelers in die land te hou.

Volgens die stelsel sal spelers wat die eerste keer Superrugby- of Pro14-kontrakte kry, hulle outomaties vir drie jaar tot hul franchises verbind, mits hul kontrakte elke jaar hernu word.

Dié plan kan die jaarlikse uittog van talentvolle spelers tot ’n mate help stuit.

Meer oor:  Oupa Mohoje  |  Shaun Venter  |  Bloemfontein  |  Scarlets  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Kontrakte  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.