Hoewel die Cheetahs aan die begin van die Pro14-seisoen bloedneus oorsee gekry het, is dit ’n ander dierasie wat Woensdag die lang reis na Europa aanpak.

Franco Smith praat oor sy span se toer na Ierland en Wallis. Foto: Mlungisi Louw
Die Cheetahs is in September, op hul eerste oorsese toer van die seisoen, met 38-0 (deur Munster) en 46-14 (deur Ospreys) slae gegee.
Hulle het in daaropvolgende oorsese wedstryde geleidelik verbeter en vroeg in Januarie selfs met Zebre op sy tuisveld in Italië afgereken.
Gewapen met dié sukses en die selfvertroue van vier agtereenvolgende seges, is die Cheetahs opgewonde om te sien wat hulle in hul volgende drie wedstryde in Ierland en Wallis kan vermag.
Só het Franco Smith, breier van die span, voor hul vertrek gesê.
“Ek dink ons almal is opgewonde om te sien wat ons nou in Europa kan regkry. Ons wil sien of ons vorige lesse ter harte geneem het en of ons kan verbeter op ons vorige beste vertonings oorsee.
Hy sê as die Cheetahs ’n faktor in dié internasionale reeks wil word, sal hulle eenvoudig moet aanleer om weg van die gemak van die Toyota-stadion in Bloemfontein óók te wen.
Ek dink ons almal is opgewonde om te sien wat ons nou in Europa kan regkry.
Franco Smith
Maklik sal dit egter nie op dié toer wees nie. Die Cheetahs reis sonder drie van hul staatmakers en moet nou weer aanpas by koue toestande, nadat hulle die laaste ruk in versengende hitte moes oefen.
Smith sê weerstoestande moenie ’n invloed op ’n span se ingesteldheid of vertonings hê nie.
“Hopelik kan ons die spelers sover kry om te besef dat jy nie in die Toyota-stadion hoef te wees om goed te speel nie,” sê hy.
’n Ander belangrike faktor oorsee sal die Europese skeidsregters se vertolking en toepassing van die reëls wees.
Die Cheetahs het gebrom oor die Suid-Afrikaner Stuart Berry se vertoning in hul laaste wedstryd teen die Southern Kings en dat sy hantering van wedstryde verskil van hoe sy Europese eweknieë dit doen.
Smith is tevrede dat een van die wêreld se beste blasers, Nigel Owens, aan die stuur van Saterdag se wedstryd teen Connacht in Galway sal wees. Nog ’n ervare toetsblaser, John Lacey, sal een van sy assistente wees.