Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Té veel foute, té min geduld kelder span
Cheetahs-tenk leeg teen die Scarlets

Foute op kritieke tye het daartoe gelei dat die Cheetahs gister hul tweede nederlaag in soveel toerwedstryde in die Pro14-reeks gely het.

Die Scarlets het die Cheetahs met 17-13 in Llanelli, Wallis, in die spanne se Pro14-wedstryd geklop, maar dit kon ’n heel ander storie gewees het as die Cheetahs dalk ’n bietjie meer geduld aan die dag gelê het.

As is egter verbrande hout en die Cheetahs kan net hulself vir dié nederlaag blameer.

Tian Meyer duik oor die doellyn vir die Cheetahs se enigste drie gister in hul wedstryd teen die Scarlets. Foto: Gallo Images

Die kwaai reën wat uitgesak het, het nie juis hardlooprugby bevorder nie, maar die kere wat die Cheetahs in gunstige posisies was nadat hulle geleenthede geskep het, het hulle nie gebruik nie.

Met rustyd was die tuisspan met 14-7 voor en sake was toe nog gelykop, behalwe dat die Cheetahs in daardie eerste 40 minute swaar in die skrums geleef het.

Die Cheetahs was eerste op die telbord nadat die senter Benhard Janse van Rensburg die bal by ’n losgemaal gesteel en weggebreek het, waarna hy met ’n voetaangee sy kaptein en skrumskakel, Tian Meyer, weggestuur het om te gaan druk.

Alles was teen die verloop van die spel nadat die Scarlets teen daardie tyd die meeste van die speelwerk gedoen het, terwyl die Cheetahs meestal moes walgooi.

Meyer was daarna maar redelik min deel van die aksie en dit het gelyk of hy gesukkel het op die swaar veld.

Dit is so dat verdediging wedstryde wen, maar dit tap ook energie en die Cheetahs het in daardie eerste 20 minute kwaai deurgeloop.

Dit was ook net ’n kwessie van tyd voordat daar gate in die verdediging oopgegaan het vir die Scarlets-vleuel Steff Evans om sy 41ste drie in sy 100ste wedstryd te gaan druk.

Die deurdringende reën het egter verhoed dat die Cheetahs die hoë-intensiteit-rugby wat hulle in hul eerste drie wedstryde gehandhaaf het, kon speel. Dit gesê, die Scarlets het op hul beurt elke kans wat hulle geskep het tot hul voordeel gebruik.

’n Gebrek aan konsentrasie eerder as swak verdediging het tot Scarlets se tweede drie gelei, toe die skrumskakel Kieran Hardy om die steelkant gebars het om sy span met ’n verdoelde drie te laat voorloop.

Met minder as tien minute speeltyd oor het dit gelyk of die Cheetahs met een van hul kenmerkende dryfmaalbewegings ’n drie sou gaan druk nadat hulle die Scarlets in trurat gehad het, maar die bal is verloor en dit het die Bloemfonteiners se vertoning opgesom.

Hopelik sal die Cheetahs vinnig genoeg hergroepeer vir volgende week se stryd teen die Cardiff Blues, wat moontlik hul vyf Walliese Wêreldbeker-spelers tot hulle beskikking sal hê.

  • Punte:
Scarlets 17 (14): Drieë: Steff Evans, Kieran Hardy. Doelskoppe: Dan Jones (2). Strafdoel: Jones.
Cheetahs 13 (7): Drie: Tian Meyer. Doelskop: Tian Schoeman. Strafdoele: Schoeman, Ruan Pienaar.
  • Die Kings het Vrydagaand lelik op hul baadjie gekry teen die Glasgow Warriors, wat hulle met 50-0 geslag het. Dit beteken die Oos-Kapenaars is steeds die seisoen segeloos.
Meer oor:  Scarlets  |  Cheetahs  |  Pro14-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.